Pligte en verantwoordelikhede van direkteure ten opsigte van korporatiewe beheer van ’n maatskappy

Jaarlikse CIPC-opgawes en die gepaardgaande vorms
April 6, 2018
Cryptocurrency
April 6, 2018

In terme van die Maatskappywet 71 van 2008 (“die nuwe Wet”) bepaal artikel 7(b)(iii) dat een van die oogmerke van die nuwe Wet is om deursigtigheid en hoë standaarde van korporatiewe bestuur aan te moedig.

Gedurende die bestaan van die Maatskappywet 63 van 1973 (“die ou Wet”) was die pligte en verantwoordelikhede van direkteure wel tot ’n mate in die ou Wet vervat, maar tot ’n groot mate deur die gemenereg en regspraak gereguleer. Sedert die inwerkingtrede van die nuwe Wet op 1 Mei 2011, word die pligte en verantwoordelikhede van ’n direkteur breedvoerig aangespreek en in die nuwe Wet uiteengesit.

In terme van die nuwe Wet, het ’n direkteur egter steeds gemeenregtelike fidusiêre pligte, waarvan goedertrou een is. Dit word van ’n direkteur verwag dat hy/sy te alle tye in die beste belang van die maatskappy sal optree en nie enige inligting wat bekom word weens sy/haar amp vir eie gewin sal gebruik nie. Hierdie sluit onder andere die volgende in, maar is nie daartoe beperk nie; om onafhanklike oordeel in besluitneming uit te oefen, om nie korporatiewe eiendomsinligting of geleenthede vir persoonlike gewin te gebruik nie, die plig om sorg, vaardigheid en ywer uit te oefen en om ’n botsing van belange te voorkom.

Buiten die gemeenregtelike pligte en verantwoordelikhede van ’n direkteur, maak artikel 75 en artikel 76 van die nuwe Wet ook voorsiening vir die pligte en verantwoordelikhede van ’n direkteur van ’n maatskappy. Artikel 75 van die nuwe Wet inkorporeer die bepalings van artikel 234 van die ou Wet, deur ’n verpligting op ’n direkteur te plaas om ’n konflik van belange, hetsy direk of indirek, te openbaar.

Kragtens die bepalings van artikel 76(1) van die nuwe Wet, sluit die definisie van ’n direkteur ook ’n alternatiewe direkteur, ’n voorgeskrewe beampte, ’n lid van die direksiekomitee of ’n lid van die ouditkomitee in, ongeag of daardie persoon ook ’n lid van die maatskappy se direksie is of nie. Artikel 76 van die nuwe Wet plaas ’n tweeledige positiewe verpligting op die direkteure van ’n maatskappy, naamlik dat ’n direkteur –

  1. nie sy/haar posisie sal gebruik om ’n voordeel vir homself/haarself te bewerkstellig nie, of enige ander persoon as die maatskappy, of ’n volfiliaal van die maatskappy te verkry nie, of wetende skade aan die maatskappy of filiaal van die maatskappy te berokken nie; of
  2. op die vroegste moontlike geleentheid enige inligting met die direksie sal deel, tensy die direkteur redelikerwys van mening is dat daardie inligting nie wesenlik is tot die maatskappy nie, of algemeen beskikbaar is vir die publiek.

In terme van artikel 76(3) word uitdruklik bepaal dat wanneer ’n direkteur in sy/haar hoedanigheid as sulks optree, sodanige optrede en uitvoering van funksies in goeie trou en vir ’n behoorlike doe,l asook in die beste belang van die maatskappy moet geskied. ’n Direkteur moet te alle tye met die nodige sorg, vaardigheid en noulettendheid optree wat redelikerwys verwag kan word van ’n persoon met dieselfde funksie/s en algemene kennis, vaardigheid en ervaring van daardie direkteur.

Vanuit die bepalings van die nuwe Wet, asook die gemeenregtelike pligte wat aan direkteurskap gekoppel word, is dit belangrik dat behoorlike oorweging geskenk word aan die pligte en verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan. Behoorlike korporatiewe beheer word as ’n oogmerk van die nuwe Wet uiteengesit en om daardie rede is dit belangrik om te verseker dat enige voornemende direkteur, asook bestaande direkteure, deeglik bewus is van hulle verantwoordelikhede, asook die gevolge indien daar nie daaraan voldoen word nie.

 

 

 

ASL
ASL
We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X