Embracing Xero
April 11, 2023
ASL Staff News
April 11, 2023
Click here for ENGLISH

Ons sê totsiens aan

Frances Burger

Die vreugde van klein kindervoetjies in die huis en die vooruitsig van ‘n tweede baba op die horison, het Frances die besluit laat neem om ‘n tree terug te tree van haar professionele loopbaan om haar voltydse aandag op haar gesin toe te spits en meer kwaliteittyd in haar kinders te investeer. Na bykans vier jaar in die rol van belastingspesialis en regskonsultant, verlaat sy dus ASL se diens op 31 Maart 2023.

Ons wil haar graag bedank vir haar bydrae tot die uitbou van ons belastingkonsultasiefunksie, dat sy haar kennis deel met kollegas en hul sodoende bemagtig asook haar deurlopende ondersteuning aan die kliëntebestuurders en vennote. Frances het nie net ‘n impak op kliënte aangeleenthede gehad nie, maar ook elke personeellid met wie sy in aanraking was, se kennis verbreed. Ons wens vir haar en haar gesin alles van die beste toe met hierdie nuwe opwindende hoofstuk.

Die toegewyde ASL span was nog altyd, en bly nogsteeds, daartoe verbind om hoogstaande gehaltediens aan ons kliënte te lewer en dienste sal ononderbroke voortgesit word. Ons is bevoorreg dat ons die nodige kundigheid intern opgebou en verskeie individue bemagtig het. Daarmee saam is ons ook bevoorreg om gevestigde verhoudinge met verskeie kundige spesialiste in die belastingveld te hê wat ons kan raadpleeg sou die behoefte daarvoor ontstaan.

Navrae kan gerus gerig word aan enige van die vennote by die firma.

Suné Lourens

Ons groet ook vir Suné, bestuurder in ons rekeningkundige / besigheidsoplossingsafdeling, aan die einde van Maart. Suné en haar man het besluit om terug te keer na hul geboorteland, Namibië, waar hulle Swakopmund hul nuwe tuiste gaan maak. Suné sluit aan by ’n firma in Walvisbaai waar sy haar passie vir rekeningkunde en belasting verder gaan uitleef.

Suné het diep spore in ASL getrap sedert sy as leerlingrekenmeester in 2016 by ons aangesluit het, gevolg deur haar bevordering na kliëntebestuurder in die besigheidsoplossingsafdeling in 2019. Ons gaan haar uitstaande werksetiek en besonderse menswees mis en wens haar voorspoed en sukses toe op haar toekomspad!

Suné se opvolger is geen onbekende by ASL nie. Anneke West het in 2020 by ASL as leerlingrekenmeester aangesluit nadat sy haar BCom Honneursgraad in Bestuursrekeningkunde in 2019 aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het. Anneke is in Somerset-Wes gebore en getoë en het ’n groot liefde vir mense en die natuur.

Anneke is na drie jaar dus reeds bekend met die ASL-manier van dinge doen en ons is opgewonde oor die nuwe aanstelling en die verdere groei wat sy in haar loopbaan gaan ervaar.

Dit bly ons prioriteit om kontinuïteit en bogemiddelde diensvlakke gedurende hierdie oorgangsperiode te handhaaf. Ons nooi u uit om met ons in verbinding te tree sou daar enige onsekerhede of navrae in hierdie verband ontstaan.

ASL verwelkom graag nuwe personeel wat by ons aansluit

ASL verwelkom graag die volgende nuwe personeellede wat in Februarie 2023 by die firma aangesluit het om hul klerkskap te voltooi. Ons weet dat die volgende drie jaar van klerkskap verrykende lewenslesse sal inhou, wat elke individu sal voorberei vir hul onderskeie loopbane.

Klerkskap 2023 groep | Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR):

Van links na regs:

Evan Slabbert (tans besig met sy BRek graad deur UNISA), Charné Pietersen (BRek Hons, NWU), Mardi Venter (BRek Hons, NWU), Vonique Slabbert (BRek, NWU), Casper Venter (BRek Hons, NWU), Cindi Henning (Forensiese Rekeningkunde Hons, NWU), Anne Diedericks (BRek Hons, SU), Pauline Lloyd (BRek, SU), Jacques Brits (BRek, UP).

Klerkskap 2023 groep | Suid-Afrikaanse Instituut vir Professionele Rekenmeesters (SAIPR):

Van links na regs:

Amoré Yzelle (BCom Bestuursrekeningkunde Hons, NWU), Alika Rossouw (BCom Bestuurrekeningkunde Hons, SU), Lize-Mari Marais (BCom Finansiële Rekeningkunde, NWU), Ané Jansons (BCom Finansiële Rekeningkunde, NWU), Jaun van der Walt (BCom Finansiële Rekeningkunde, NWU), Tania Brandt (BCom Bestuursrekeningkunde Hons, SU), Mariska Keeve (BCom Finansiële Rekeningkunde, NWU) en Mioné Luus (BCom Finansiële Rekeningkunde, NWU).

Verder verwelkom ASL ook vir Cally Januarie, wat in Oktober 2022 by ASL aangesluit het as ‘n boekhouer. Cally, haar man en drie pragkinders is woonagtig in die Strand. Sy het ondervinding beide in-praktyk, sowel as buite praktyk waar sy in haar vorige rolle as boekhouer in diens was. Ons waardeer reeds die impak wat sy op haar kliënte en kollegas maak die afgelope paar maande.

 


 

Gelukwensings | Studies:

Ons wens graag die volgende personeel geluk met hul uitsonderlike akademiese prestasies.

Anna-Mart du Plessis, ‘n derdejaar SAIPR klerk wat ook gelyklopend haar Bestuursrekeningkunde kwalifikasie voltooi deur die Chartered Institute of Management Accountants (CIMA), het in November 2022 haar finale CIMA strategiese gevallestudie geslaag. Sy sal dus na afloop van haar finale jaar van klerkskap by beide die SAIPR en CIMA kan registreer. Baie geluk met hierdie prestasie!

Verder wens ons ook die volgende personeel geluk met die voltooiing van die finale raadseksamen ten einde te kan registreer as ‘n geoktrooieerde rekenmeester by die SAIGR. Hierdie groep het tydens Desember 2022 die finale assessering in professionele bevoegdheid (tans bekend as Assessment of Professional Competence (APC), voorheen bekend as “raad 2”), voltooi.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X