Voordelige eienaarskap
Suid-Afrika is onlangs op die gryslys geplaas weens nie-voldoening aan die internasionale standaarde met betrekking tot die voorkoming van geldwassery en die finansiering van terrorismeaktiwiteite. Gevolglik het die Parlement in Desember 2022 die Wysigingswet op Algemene Wette teen geldwassery en bestryding teen terrorismefinansiering, goedgekeur.
Die wysigings aan die Maatskappywet, wat op 1 April 2023 in werking getree het, gee die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (“CIPC”), die volmag om maatskappye (uitgesluit publieke maatskappye en maatskappye met persoonlike aanspreeklikheid) en beslote korporasies te verplig om hul inligting rakende voordelige eienaarskappe te openbaar.
Die belangrikste wysigings aan die Maatskappywet het twee nuwe konsepte bekend gestel, naamlik “voordelige eienaar” en “geaffekteerde maatskappy”.
“Voordelige eienaar” verwys na ‘n individu wie, direk of indirek, uiteindelik daardie maatskappy besit en/of effektiewe beheer oor daardie maatskappy uitoefen, insluitend deur—
‘n “Geaffekteerde maatskappy” verwys na ‘n maatskappy, of sy filiaal, wat onderhewig is aan die beheer van die Oornameregulasiepaneel. Hierdie wysigings verplig die geaffekteerde maatskappy om ‘n register van voordelige belange by te hou.
Maatskappye wat nie binne die definisie van ‘n “geaffekteerde maatskappy” val nie, word verplig om inligting oor enige individu wie direk of indirek 5% of meer van die aandeelhouding in daardie maatskappy besit, te identifiseer en in hul sekuriteitsregister aan te teken en dit by CIPC in te dien. Enige veranderinge aan ‘n maatskappy se voordelige eienaarskap moet binne 10 werksdae in die maatskappy se sekuriteitsregister aangebring word.
‘n Verdere vereiste is dat maatskappye verplig word om jaarliks ‘n afskrif van hul sekuriteitsregister of register van voordelige belange, soos van toepassing, saam met hul jaarlikse opgawes by CIPC in te dien, sodat CIPC op datum kan bly van enige veranderinge in voordelige eienaarskap van die maatskappy.
Noodsaaklikheid van die indiening van jaarlikse opgawes
Soos gemagtig deur die Maatskappywet, het CIPC begin om aanmaningsbriewe aan maatskappye te stuur wat versuim het om vir twee opeenvolgende jare ‘n jaarlikse opgawe in te dien.
Indien ‘n maatskappy versuim om die uitstaande jaarlikse opgawes binne 20 werksdae na ontvangs van die CIPC aanmaningsbrief in te dien, sal CIPC ‘n Kennisgewing van Hangende Deregistrasie aan die maatskappy uitreik. CIPC sal voortgaan om ‘n maatskappy te deregistreer indien dit versuim om die uitstaande jaarlikse opgawes binne 20 werksdae na ontvangs van die Kennisgewing van Hangende Deregistrasie in te dien.
Dit is dus noodsaaklik vir maatskappye om tydig hul jaarlikse opgawes in te dien om die deregistrasie van die maatskappy te voorkom.
Rig gerus enige navrae aangaande voordelige eienaarskap en/of status van u maatskappy se jaarlikse opgawes aan pty@asl.co.za.