Testamente en Egskeiding

Employee News
August 6, 2019
Corporate Governance – Dividends
August 6, 2019

Die Wet op Testamente, 7 van 1953, (verder na verwys as die Wet), bepaal die formele vereiste vir die uitvoering van ‘n geldige testament. Dit bevat verder ‘n artikel wat handel oor die situasie wanneer iemand kort na ‘n egskeiding te sterwe sou kom.

Artikel 2B van die Wet stipuleer soos volg:

“Indien iemand te sterwe kom binne drie maande nadat sy huwelik deur ‘n egskeiding of nietigverklaring deur ‘n bevoegde hof ontbind is en daardie persoon voor die datum van sodanige ontbinding ‘n testament verly het, word uitvoering aan daardie Testament gegee op dieselfde wyse waarop daaraan uitvoering gegee sou word indien sy voormalige gade voor die datum van die betrokke ontbinding oorlede is, tensy uit die Testament blyk dat die erflater ondanks die ontbinding van sy huwelik bedoel het om sy voormalige gade te bevoordeel.”

Dus, as ‘n persoon skei of die huwelik nietig verklaar word en hy/sy kom te sterwe:
1. Binne drie maande vanaf die datum van die egskeiding/nietigverklaring, sal die gewese huweliksmaat geag word eerssterwende te wees en dus nie enigiets van die oorlede persoon erf nie.
2. Na die drie maande-periode (vanaf datum van egskeiding) val die geagte bepaling weg en as die oorledene se testament nie gewysig is nie, sal die gewese huweliksmaat volgens die testament erf.

Hierdie bepaling in die Wet gee die testateur die geleentheid om sy testament te verander in die drie maande-periode wat deur die Wet voorsien word. As hy nie sy testament hersien nie word veronderstel dat hy dit nie wou hersien nie en sal die bepalings van die testament behoue bly. Dus sal die gewese huweliksmaat in staat wees om alles in die testament te erf.

Dit is daarom baie belangrik om te verseker dat u testament op datum is.

Kontak asseblief ons boedeladviseur, Inge Heath, by inge@asl.co.za as u enige vrae sou hê.

ASL
ASL
We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X