‘n Sterk tema wat van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en Nasionale Tesourie vir die 2024-boekjaar na vore kom, is dié van verslagdoening en trusts word nie agterweë gelaat nie.
Begunstigde eienaarskap
Om aan die vereistes van die Financial Action Task Force (FATF) te voldoen, beoog die SAID om alle begunstigde eienaars van nuut geregistreerde trusts aan te teken. Die SAID se aanlyn navraestelsel is verbeter om voorsiening te maak vir die vaslegging van die begunstigde eienaar se besonderhede wanneer nuwe trusts vir belasting geregistreer word.
‘n Begunstigde eienaar is nie gedefinieer nie, maar riglyne wat deur die SAID uitgereik is, lui dat die verteenwoordigende belastingbetaler van die trust of hooftrustee die inligting van die oprigter, trustees, skenker, beskermer en begunstigdes op die aanlynstelsel moet aanteken.
Die uiteindelike begunstigde eienaar moet ‘n natuurlike persoon wees en indien ‘n trust regspersone as begunstigdes het, moet dit die uiteindelike natuurlike persoon, wat die voordeel van die bates of inkomste sal geniet, wie geïdentifiseer en opgenbaar gemaak moet word, insluit.
Waar trusts meer as 10 begunstigde eienaars (natuurlike persone) het, moet ‘n organogram ook op die aanlynstelsel ingedien word. Die registrasie van begunstigde eienaars sal ‘n uitgebreide oefening verg om ‘n akkurate register van uiteindelike begunstigde eienaarskap te verseker.
Derde-party data verslagdoening
Die SAID vereis derde-partyverklarings van banke, finansiële instellings, mediese fondse, prokureurs en eiendomsagente. Hierdie verklaringsproses verseker dat opgehoopte inkomste van die belastingbetaler op die jaarlikse inkomstebelastingopgawe aangebring word.
Tans word uitkeurings deur trusts nie by wyse van derde-partydata aan die SAID gerapporteer nie en daarom het die SAID nie onafhanklike data om die uitkerings wat deur trustbegunstigdes ontvang word, te verifieer nie.
Die SAID stel voor dat die ITR12T- en IT3(t)-prosesse gelyktydig gebruik word en uiteindelik saamgevoeg word in een enkelgekoppelde begunstigdestelsel om intydse akkurate data te verseker.
Die verslagdoening van inligting oor begunstigde eienaars en die derde-partyverklarings sal ‘n wesenlike administratiewe las op die verteenwoordigende belastingbetaler van die trust plaas asook aansienlike koste-implikasies inhou wat in die meeste gevalle nie geregverdig kan word vir die gemiddelde familietrust nie.
Vir meer inligting op belastingverslagdoeningsvereistes vir trusts is u welkom om Jan Louis Koen te kontak by 021 840 1600 of e-pos by janlouis@asl.co.za