Wysigings aan die Wet op die Beheer oor Trustgoed vereis meer beheer van trustees

Highlights from the 2023 Budget Speech
April 11, 2023
Trust Property Control Act amendments requires more control from trustees
April 11, 2023
Click here for ENGLISH

Die Staatskoerant gedateer 29 Desember 2022, bevat verskeie wysigings aan die Wysigingswet van 2022 op die Algemene Wette (teen Geldwassery en Bekamping van Terrorismefinansiering) (“Wysigingswet”), insluitend belangrike wysigings aan die Wet op die Beheer van Trustgoed van 1988 (“die Wet”).

Die gepubliseerde wysigings het ten doel om geldwassery te bekamp en bied ‘n bykomende vlak van sekuriteit en sorg wat onderneem moet word gegewe Suid-Afrika se gryslys-gradering deur die Financial Action Taskforce (FATF). Die Wet plaas ‘n groter las op trustees om meer beheer oor trustaktiwiteite uit te oefen, en sluit die volgende in:

1.  Uitbreiding van die byhou van rekords van trusteiendom

Artikel 11 van die Wet lys hoe ‘n trustee te werk moet gaan om ‘n register van trusteiendom te hou. In die wysigings en uitbreiding tot Artikel 11 word dit nou van trustees vereis om ook die korrekte besonderhede aan te teken met betrekking tot die verantwoordingspligtige instellings (“accountable institutions”) wat as agente gebruik word om enige van die trustees se funksies met betrekking tot trusteiendom te verrig of wat ‘n diens aan die trustee lewer.

Verantwoordingspligtige instellings word ingevolge die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum, Wet Nr. 38 van 2001 gedefinieer as:

prokureurs, ‘n raad van eksekuteurs of ‘n trustmaatskappy of enige ander persoon wat belê, in veilige bewaring hou, trusteiendom beheer of administreer binne die betekenis van die Wet op die Beheer oor Trustgoed, eiendomsagente, banke, versekeringsmakelaars en beleggingsmakelaars onder andere.

2.  Handhawing van rekords van en verslagdoening oor begunstigde eienaarskap van trusts

Die definisie van begunstigde eienaarskap van ‘n trust is herbelyn met die definisie vervat in die Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum, Wet Nr. 38 van 2001. Die definisie sluit in “enigiemand wat uiteindelik direk of indirek betrokke trusteiendom besit of effektiewe beheer uitoefen oor die administrasie van die trust” en sluit spesifiek die volgende in:

  • die oprigter van ‘n trust, en indien die oprigter ‘n regspersoon of vennootskap is, diegene wat die regspersoon of vennootskap effektief beheer;
  • trustees (insluitend natuurlike persoon/persone wat ‘n trustee beheer wat nie ‘n natuurlike persoon is nie, soos ‘n maatskappy of ander entiteit);
  • enigiemand wat direk of indirek uiteindelik die betrokke trusteiendom besit of effektiewe beheer oor die administrasie van die trust uitoefen; en
  • enige begunstigde waarna by naam in die trustakte verwys.

‘n Rapporteringstruktuur aan die Meester van die Hoë Hof sal deur die gewysigde wetgewing ingestel word om die Meester in staat te stel om tred te hou met die uiteindelike begunstigde eienaarskap van trustbates. Die bedoeling van die wysigings is om die wangebruik van trusts te voorkom en te verseker dat daar voldoende, akkurate en tydige inligting oor die beheer van trusts beskikbaar is vir die owerhede.

Effek op huidige status

Dit is duidelik dat die nuwe wetgewing ‘n veel groter onus op trustees sal plaas vir behoorlike rekordhouding wat sal lei tot meer akkurate en bygewerkte rekords. Ons is van mening dat dit ongelukkig ‘n negatiewe impak sal uitoefen op die koste en omvang van trustadministrasie.

Wat is die implikasies indien die wysigings verontagsaam word?

Trustees wat versuim om te voldoen aan die openbaarmakings- vereistes wat deur die Wysigingswet ingestel is, sal ‘n kriminele oortreding begaan en by skuldigbevinding kan tronkstraf tot ‘n maksimum van vyf jaar of ‘n boete tot ‘n maksimum van R10 miljoen opgelê word.

Dit is belangrik om te verseker dat trustees bewus is van die wysigings en verantwoordelikhede van toepassing op die amp van trustee. Lees gerus ook ons artikel ten opsigte van belastingverslagdoeningsvereistes van trusts in hierdie nuusbrief.

Kontak gerus vir Jacques Potgieter by jacquesp@asl.co.za indien u meer inligting met betrekking tot die wysigings verlang.

 

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X