Trusts, belasting en IT3(t)’s
March 11, 2024
Foreword
March 11, 2024
Click here for ENGLISH

2024 is reeds in volle swang en die gesellige samesyn en koesteroomblikke met geliefdes tydens die feesseisoen reeds vergete. Sonder twyfel het baie van ons reflekteer oor die jaar wat verby is en terselfdertyd gewonder wat 2024 vir ons, maar ook Suid-Afrika, inhou.

So hoe lyk 2024 vir Suid-Afrika? As jy iemand is wat op hoogte bly van nuusgebeure, is jou uitkyk vir Suid-Afrika in 2024 waarskynlik nie positief nie. Met ’n voorspelling van 32.8% as werkloosheidsyfer, die uitdagings van onvoorspelbare en aanhoudende beurtkrag waarmee besighede daagliks gekonfronteer word, korrupsie wat klaarblyklik nie onder beheer gebring kan word nie en die vooruitgang van ons land tot stilstand bring, die opkomende verkiesing en gepaardgaande politieke onstabiliteit, die snelgroeiende skuldlas van ons land terwyl ons regering die een onvolhoubare belofte na die ander maak – dink maar aan die Nasionale Gesondheidsversekering en stygende staatstoelaes – is dit haas ondenkbaar om gemotiveerd te bly om van 2024 ’n jaar van positiewe impak te maak.

Suid-Afrika is sonder twyfel in ’n oorlewingstryd gewikkel. En die vooruitsigte lyk sleg. Tog was ons al telkemale in die verlede in soortgelyke situasies en het ons elke keer beter en sterker daardeur gekom. Wat het ons dan voorheen gered? Doodgewone Suid-Afrikaners wat saamstaan. En verandering. Daar is ’n gesegde wat lui “wees die verandering wat jy wil sien”. Dit is die uitdaging aan onsself by ASL hierdie jaar met een van ons personeelinisiatiewe genaamd “ASL Be the Change” en ons rig ook hierdie uitdaging aan elke kliënt, besigheidsvennoot, diensverskaffer en kennis. Bring verandering daar waar jy elke dag jou dagtaak verrig, of anders gestel, blom waar jy geplant is. Moet nooit die rimpeleffek van ’n vriendelike glimlag vir ‘n kollega, ’n warm koppie koffie aan ’n hawelose by ‘n verkeerslig of ’n sak hondekos vir ’n diereskuiling onderskat nie. Geen oorlog in die geskiedenis van die wêreld is al ooit begin deur ’n vriendelike woord of ’n daad van welwillendheid nie. Kom ons begin ’n golf van verandering in ons huisgesin, ons vriendekring, ons werkplek, ons gemeenskap, ons dorp, ons stad, ons Suid-Afrika.

Mag ons in 2024 verandering saai waar ons ookal gaan en mag ons oes van geleenthede, groei, sukses en oorwinning oorvloedig wees.

ASL Groete

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X