Foreword
September 18, 2023
Voordelige eienaarskap en die noodsaaklikheid van indiening van jaarlikse opgawes
September 18, 2023

Click here for ENGLISH

ASL het in sy huidige vorm op 1 Augustus 1998 ’n beskeie begin gehad toe Pieter Aucamp die ouditafdeling van die destydse Philip Marais & Kie in Somerset-Wes gekoop het. Die personeelkorps het bestaan uit Pieter self en ’n ontvangsdame wat met nog drie ander firmas gedeel is. 25 jaar later is ons geseën met amper 100 personeel en nog vyf direkteure wat oor die afgelope aantal jare aangesluit het van wie die “Scholtz” en “Lubbe” ongelukkig reeds weg is by ons.

As ons terugdink aan die afgelope 25 jaar is dit met groot dankbaarheid vir die baie genade wat ons ontvang het. Ons sou nie gewees het waar ons is, was dit nie vir die goeie en volgehoue ondersteuning van ons kliënte, personeelkorps en besigheidsnetwerke nie. En daarvoor wil ons almal bedank vir die verhouding wat ons met elkeen het. Veral ons kliënte – ons is geseënd met ’n baie lojale kliëntebasis wat in eie reg baie suksesvol is. Dit is vir ons ’n riem onder die hart om te weet dat bykans al die kliënte wat 25 jaar gelede deel van die oorname was, steeds kliënte van die firma is.

Netso is ons afhanklik van personeel en ons is bevoorreg om voortdurend baie goeie en lojale personeel in diens te hê. As ’n opleidingskantoor is ons personeelomset (on)gelukkig baie groot, maar aan die ander kant is dit ook ’n baie dinamiese omgewing en dit is vir ons lekker om te sien hoe ’n persoon wat pas sy of haar studies voltooi het, ontwikkel in ’n professionele persoon wat hulle plek in die samelewing vol staan en ’n sukses van hulle verdere loopbaan maak. Dit is vir ons ’n voorreg om steeds met baie van hulle kontak te hê deur hulle betrokkenheid by van ons kliënte.

Ons by ASL probeer elke dag ons kernwaardes – WTRAC – uitleef. Ons besef ons is nog nie daar waar ons wil of moet wees nie, en ons streef dus daagliks om dit wat ons doen beter te kan doen. Vandaar ook ons leuse “Raising the Bar”. Soos in hoogspring moet ons elke dag die dwarslat bietjie hoër lig om beter te wees in dit wat ons doen, die diens wat ons vir ons kliënte gee asook die werkgewer wat ons vir ons personeel is.

Met ons 25 jaar funksie vir ons personeel het Charl Cronje (onder andere die vorige hoof uitvoerende beampte van Ackermans en voorsitter van die Maties Rugbyklub) ’n paar wyshede met ons kom deel. Dit is dan ook ons wens dat elkeen wat hierdie nuusbrief kry die “LIFE”-beginsel in hul eie lewens sal toepas en die keuse sal uitoefen om te “Live in faith every day” en nie “Live in fear every day” nie.

Ons sien daarna uit om vir nog lank in die toekoms verhoudings te bou wat vir alle partye van waarde sal wees en tot voordeel sal strek.

Vriendelike groete

Pieter, Christa, Jaco en Reinhard

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X