Februarie is pas agter die rug… Ons het ‘n maand oorleef wat gewoonlik gepaard gaan met die betaal van belasting, vrae oor die aanwending daarvan en dan ook die begrotingsrede vir die komende jaar.
Minister Enoch Godongwana het sy eerste begrotingsrede gelewer en in teenstelling met die algemene verwagting dat belastingkoerse in Suid-Afrika verhoog sal moet word om die huidige skuldlas en spandering te finansier, het die Minister verras met baie min verhogings. Trouens, individue sal die volgende jaar minder belasting betaal (indien die effek van inflasie buite berekening gelaat word) en die belastingkoers vir maatskappye (wat se jaareinde ná 1 April 2022 begin) word na
27% verminder.
Die Minister se uitgangspunt was duidelik dat belasting nie verhoog moet word nie siende dat hy meer geld in die hande van die Suid-Afrikaanse belastingpligtige wil hou om sodoende toestande te skep waarin beleggings aangewakker kan word en ekonomiese groei gevolglik gedryf sal word.
Die Minister het verder in sy begrotingsrede kortliks ‘n hele paar knelpunte uitgewys wat aangespreek moet word, maar het versuim om uit te brei oor die planne om hierdie kwessies aan te spreek. Daar is volgens ekonome te min planne gekommunikeer om die huidige skuldlas (ongeveer R4,35 biljoen) in Suid-Afrika aan te spreek, om die geprojekteerde BBP-groei van 1.8% oor die volgende drie jaar te verseker en te verhoog, die maatskaplike toelaes te verminder (46% van die bevolking is hiervan afhanklik), en die land se uitgawes (begroot vir R2,15 biljoen) te verminder ten einde gedek te kan word deur inkomste (begroot vir R1,85 biljoen) en nie deur staatskuld nie.
Met bostaande as agtergrond, is dit dus duidelik dat ekonomiese groei in Suid-Afrika meer noodsaaklik word. Dit is egter vir ons verblydend dat ons kliëntebasis ‘n positiewe bydrae tot Suid-Afrika lewer en dit voortdurend volhou deur verdere investering en werkskepping. Kom ons hoop en maak saam planne om te verseker dat die Minister se voorneme dat belastingbesparings ekonomiese groei sal stimuleer, tot uitvoering kom.
U is welkom om ons te skakel indien u die impak van die huidige begroting op u situasie wil bespreek. U kan gerus ook ASL se elektroniese belastinggids van ons webtuiste aflaai. Kliek hier om ons 2022/2023 belastinggids af te laai.
Vriendelike groete
ASL