
Waninformasie is waarskynlik een van die mees gebruikte woorde in die afgelope paar maande, en dit blyk selfs ons “KI”- of kunsmatige intelligensie-vriende sukkel om feite van fiksie te onderskei. Met dit in gedagte, het ons besluit om hierdie voorwoord menslik-geïnspireerd te hou – gegrond in werklike insigte en ervarings.
Een tema wat deurlopend na vore tree, is die waarde van opregte, menslike verhoudinge – iets wat KI eenvoudig nie kan naboots nie. ’n Onlangse voorbeeld wat dit mooi illustreer, is die besoek van die Suid-Afrikaanse afvaardiging aan die Withuis op 21 Mei 2025, waar leiers uit sowel die sake- as sportwêreld teenwoordig was. Albei sektore is glo op uitnodiging of aanbeveling van President Trump by President Ramaphosa se afvaardiging ingesluit – ’n bewys van die krag van persoonlike verbindings, dikwels gesmee in raadsale en op gholfbane.
Soos ons voortgaan om ons pad deur die dikwels onstuimige waters van 2025 te baan, sal die sterkte van hierdie verhoudinge deurslaggewend wees vir besigheidssukses. Ons is hieraan herinner tydens ’n onlangse besoek by die loopbaanuitstalling van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, waar ons met opkomende professionele studente gesels en ook gewerf het om by ons span aan te sluit – individue wat moontlik in die toekoms kan bydra tot die groei en verdieping van ons kliënteverhoudinge.
Op finansiële gebied het die Begrotingsrede 3.0 gelukkig nie verdere BTW-verrassings ingehou nie en hopelik ook ’n einde gebring aan die ongekende vertragings in die begrotingsproses. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die repokoers met 25 basispunte te verlaag, het teen einde Mei ’n welkome verligting vir skulddraers gebring.
By ASL glo ons dat sterk verhoudinge die kern vorm van volhoubare groei – daarom is dit ook deel van ons kernwaardes. Ons sien daarna uit om bestaande verhoudinge verder te versterk en nuwe verhoudinge te vorm in die maande wat voorlê.