Op 1 April 2023 het die Companies And Intellectual Property Commission, (CIPC), sy Voordelige Eienskaarskapregister bekend gestel. Hierdie register vereis dat alle korporatiewe entiteite wat by die CIPC geregistreer is – insluitend private maatskappye, beslote korporasies, nie-winsgewende maatskappye, staatsbeheerde maatskappye, persoonlike aanspreeklikheidsmaatskappye en publieke maatskappye – hul voordelige eienaarskapverklarings indien. Hierdie vereiste spruit voort uit die Algemene Wette (Anti-Geldwassery en Bekamping van Terrorisme Finansiering) Wysigingswet 22 van 2022, wat die Maatskappywet 71 van 2008 gewysig het.
Met ingang 1 Julie 2024 het die CIPC begin om die indiening van voordelige eienaarskapverklarings af te dwing tydens die indiening van jaarlikse opgawes. In praktyk beteken dit dat die entiteit se voordelige eienaarskapverklaring binne 30 dae na die entiteit se herdenkingsdatum ingedien moet word, wat aansluit by die sperdatum vir die jaarlikse opgawe. Die CIPC dwing die indiening van die voordelige eienaarskapverklaring af deur middel van ‘n “harde stop funksionaliteit“ op sy elektroniese platform. Wanneer daar gepoog word om die jaarlikse opgawe in te dien, sal die stelsel nagaan of die voordelige eienaarskapverklaring binne dieselfde kalenderjaar ingedien is. Indien die verklaring nie ingedien of op datum is nie, sal die entiteit nie toegelaat word om sy jaarlikse opgawe in te dien nie.
Versuim om die voordelige eienaarskapverklaring (en dus die jaarlikse opgawe) binne 30 dae na die entiteit se herdenkingsdatum in te dien, sal lei tot ‘n boete. Hierdie boete, wat gebaseer is op die entiteit se omset, kan wissel van R50 tot R1 000 en is betaalbaar saam met die jaarlikse opgawefooi. In geval van nie-nakoming van hierdie twee verpligte indienings, kan die CIPC verdere stappe neem, insluitend ondersoeke, die uitreiking van nakomingskennisgewings of selfs die deregistrasieproses inisieer, wat kan lei tot die verwydering van die entiteit van die CIPC se aktiewe rekords. Die regspersoonlikheid van die entiteit word effektief ingekort tydens deregistrasie, wat beteken dat die entiteit ophou bestaan. Dit kan beduidende implikasies hê, soos die onvermoë om dienste van banke en ander diensverskaffers wat noodsaaklik is vir die entiteit se sakebedrywighede, te bekom.
Die CIPC beoog dat entiteite hul voordelige eienaarskapverklaring slegs een keer moet indien. Enige veranderinge aan voordelige eienaarskapsinligting, soos ‘n nuwe aandeelhouer, moet binne 10 dae na die verandering ingedien word. Daarna sal entiteite bloot die akkuraatheid van die inligting wat by die CIPC op rekord is, bevestig wanneer hulle hul jaarlikse opgawe indien. Totdat die CIPC egter hierdie bevestigingsfunksionaliteit bekendstel, sal entiteite jaarliks ‘n nuwe indiening moet indien. Dit is ook belangrik om daarop te let dat elke nuwe of gewysigde indiening ‘n nuwe mandaat vereis wat onderteken moet word. Hierdie mandaat, wat tipies aan die indiener voorsien word in die vorm van ‘n gewone raadsbesluit, moet onderteken word deur die meerderheid van ‘n maatskappy se direkteure of al die lede van ‘n beslote korporasie. Die CIPC het onlangs die belangrikheid van die gebruik van ‘n maatskappy se briefhoof vir hierdie mandaat beklemtoon. Alhoewel dit nie ‘n vereiste is om ‘n pasgemaakte briefhoof met ‘n logo te hê nie, vereis die CIPC dat die entiteit se inligting op die briefhoof verskyn, insluitend die naam van die entiteit, registrasienommer, plek van inlywing, geregistreerde, besigheids- en posadres, sowel as ‘n kontaknommer en e-posadres.
Dit is belangrik om hierdie vereistes te verstaan en na te kom ten einde ontwrigting in sakebedrywighede te voorkom. Om te verseker dat voordelige eienaarskapsinligting op datum en korrek ingedien is, is noodsaaklik om nakoming te handhaaf en onnodige boetes te vermy.
Reik gerus uit na pty@asl.co.za indien u enige vrae het oor die inhoud van hierdie artikel.