Tuiskantoortoelaes: Die effek op kapitaalwinsbelasting

Wills and divorce
June 14, 2022
Relational intelligence | Post-pandemic trends
June 14, 2022

Die eerste R2 miljoen van ‘n kapitaalwins of -verlies met die verkoop van ‘n primêre woning moet vir kapitaalwinsbelastingdoeleindes (KWB-doeleindes) buite rekening gelaat word. Dit beteken dat indien die opbrengs ten opsigte van die verkoop van ‘n primêre woning R2 miljoen of minder is, die kapitaalwins buite rekening gelaat moet word.

Indien ‘n primêre woning egter gedeeltelik deur ‘n belastingpligtige gebruik is vir doeleindes om handel te dryf, soos die verhuring daarvan vir ‘n geruime tyd wat hulle dit besit het, dan moet die kapitaalwins tussen primêre woningsgebruik en nie-primêre woningsgebruik verdeel word. Die primêre woning-uitsluiting van R2 miljoen word slegs toegepas op die gedeelte van die wins wat met die primêre woning verband hou.

Gevolglik sal KWB op die oorblywende gedeelte van die kapitaalwins betaal moet word. Hou egter in gedagte dat dit moontlik kan wees om u jaarlikse uitsluiting (R40 000) te gebruik om belasting te verminder as dit nie reeds op ander kapitaalwinste en -verliese gebruik is nie.

Die verdeling moet op ‘n tydtoedelingsbasis gedoen word met verwysing na die totale aantal maande wat die woning as primêre woning gebruik is teenoor die aantal maande wat die woning uitverhuur is.

Met die realiteit van COVID-19 en die gepaardgaande ekonomiese ontberings wat die afgelope twee jaar in die land ervaar is, word dit al hoe meer algemeen dat mense dele van hul huise uitverhuur om bykomende inkomste te verdien.

In hierdie gevalle geld soortgelyke bepalings soos hierbo uiteengesit en die R2 miljoen-uitsluiting is slegs van toepassing in die mate wat u self in die woning gebly het. Hier word die verdeling op die gedeelte van die vloeroppervlakte gebaseer wat vir handel (huur) en private gebruik, gebruik word, en moet toegepas word op die totale kapitaalwins om by ‘n privaat- en ‘n besigheidsgedeelte van die kapitaalwins uit te kom.

In sommige gevalle sal ‘n kombinasie van die tyd- en areametodes gebruik moet word, byvoorbeeld wanneer die woning vir ‘n tydperk uitsluitlik as ‘n primêre woning gebruik is en dan ‘n gedeelte daarvan vir handelsdoeleindes gebruik is.

Hoe om die transaksie in u inkomstebelastingopgawe (ITR12) te verklaar

In die kapitaalwins-/verlies-afdeling van die “opening wizard” van die ITR12, moet u aandui dat u van ‘n bate ontslae geraak het. Dit sal die kapitaalwins/verlies-afdeling van u ITR12 oopmaak.

Indien die eiendom wat verkoop is, u primêre woning was (geen verhuring het plaasgevind nie), moet die “ja”-blokkie in die afdeling wat hierdie vraag vra, gemerk word. Die volle R2 miljoen primêre inwoning-uitsluiting van die kapitaalwins sal dan benut word.

As die eiendom wat verkoop is nie u primêre woning was vir die volle duur wat u dit besit het nie, moet u die besonderhede met betrekking tot die verkoop as twee afsonderlike transaksies rapporteer. Dit word gedoen deur in die “opening wizard” aan te dui dat twee verkope plaasgevind het. Dit sal twee kapitaalwins/verlies-afdelings oopmaak sodat u die besonderhede van elke transaksie afsonderlik kan voltooi.

Kontak gerus vir Jan Louis Koen op janlouis@asl.co.za vir enige verdere navrae.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X