Trusts, belasting en IT3(t)’s

Trusts, tax and IT3(t)’s
March 11, 2024
Voorwoord
March 11, 2024

Click here for ENGLISH

Om te “t” of nie te “t” nie…, dit was die vraag. Gedurende die afgelope 18 maande het die verslagdoeningsraamwerk wat trusts reguleer en die daaropvolgende las wat op trustees geplaas word, onder die vergrootglas gekom na aanleiding van Suid-Afrika se insluiting op die gryslys weens (potensiële) geldwassery en finansiering van terrorisme.

Nuut vrygestelde regulasies soos uiteengesit in Wet Nr. 22 van 2022: Algemene Wette (Anti-Geldwassery en Terrorisme Finansiering) Wysigingswet tesame met die wysigings aan bestaande regulasies in die Wet op die Beheer oor Trustgoed, Nr. 57 van 1988, die Maatskappywet, Nr. 71 van 2008 en Artikel 26 van die Belastingadministrasiewet, 2011, is almal ingestel om die risiko’s wat verband hou met geldwassery te verminder en om die verslagdoeningsverpligtinge rakende trustaangeleenthede wat deur trustees aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedoen moet word, te verskerp.

Trusts is ingesluit in die lys van entiteite wat trustverwante inligting aan die SAID moet rapporteer as deel van hul veldtog om die derde-party data verslagdoeningsisteem, soos uiteengesit in die Staatskoerant Nr. 48867 gepubliseer op 30 Junie 2023, te verbeter. Die derde-party verslagdoeningsisteem is suksesvol geïmplementeer deur die SAID met verskeie finansiële diensverskaffers soos banke, beleggingsmakelaars, mediese fondse en aftreefondse.

Nadat die relevante finansiële inligting aan die SAID rapporteer is, sal die SAID die inligting ontvang vanaf derde-party diensverskaffers (soos rekenmeesters en ouditeure) kan vergelyk met die inligting wat belastingbetalers voltooi het op hul belastingopgawes. Die Staatskoerant het bepaal dat die volgende inligting deur trustees aan die SAID voorsien moet word:

  • demografiese inligting van die trust onderworpe aan verslagdoening;
  • demografiese inligting van trustpersone / begunstigdes;
  • belasbare uitkerings of lenings aan begunstigdes;
  • besonderhede van verdeling van nie-belasbare inkomste, en
  • besonderhede rondom die vloei van kontant en ander transaksies aan en met begunstigdes.

Volgens die Staatskoerant moet die inligting wat voorsien moet word vir ‘n finansiële jaar wat strek vanaf 1 Maart tot 28/29 Februarie teen 31 Mei ingedien word. Byvoorbeeld, verslagdoening vir die 29 Februarie 2024 finansiële jaar sou teen 31 Mei 2024 ingedien moes word. Die indieningsdatum vir verslagdoening is egter op 10 November 2023 gewysig in die Staatskoerant Nr. 49646 na 30 September van elke jaar. Daarom is die indieningsdatum van die nuut geïmplementeerde IT3(t) vir die 1 Maart 2023 tot 29 Februarie 2024 finansiële jaar, 30 September 2024.

Die praktiese implikasies van die wysigings is dat die trustees van ‘n trust moet verseker dat die finansiële rekords van die trust op ‘n deurlopende basis behoorlik bygehou word. Dit maak wel deurdagte en tydige besluitneming moontlik ten opsigte van die verdelings aan begunstigdes vir ‘n finansiële jaar en die rapportering daarvan aan die SAID.

Ons sal binnekort met ons kliënte kommunikeer om hul situasie te evalueer en te bepaal watter stappe geneem kan word om voldoening aan die indieningsdatum te verseker.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X