Skip to main content

ASL – Expert Accounting Services

’n Trust bly ’n veelbenutte boedel- en generasiebeplanningsmeganisme om bates teen verskeie risiko’s te beskerm en om doeltreffende belastingbeplanning oor generasies heen te verseker. ’n Trust word deur ’n oprigter tot stand gebring, wie se voornemens en wense in die trustakte vervat word. Die trustakte bepaal hoe die trust geadministreer moet word en identifiseer die begunstigdes wat daaruit mag voordeel trek.

Aangesien die oprigter tipies bates aan die trust oordra, is dit van uiterste belang dat die trust eienaarskap van hierdie bates neem en dat die bates tot voordeel van die begunstigdes bestuur word. Die oprigter behoort nie alleenbeheer oor die bestuur of administrasie van die trustbates te behou nie, aangesien dit daartoe kan lei dat die bates as deel van die oprigter se boedel beskou word, met moontlike nadelige belastinggevolge.

Die oplossing om die fidusiêre gaping tussen ’n oprigter en ’n begunstigde te oorbrug? Die trustee.

Trustees word by die totstandkoming van die trust aangestel. Die aanvanklike trustees word in die trustakte aangeteken en kan gedurende die lewensduur van die trust gewysig word binne die riglyne wat deur die trustakte bepaal word. Die rol van ’n trustee is ’n kern-fidusiêre posisie wat beduidende regs- en etiese verantwoordelikhede meebring. Om as trustee te dien is nie bloot ’n formaliteit of ’n guns aan ’n vriend nie.

Die volgende is (van die) belangrikste fidusiêre verantwoordelikhede van ’n trustee:

  • Optrede te goeder trou
    Trustees moet te alle tye in die beste belang van die trust se begunstigdes optree. Besluite en oorwegings moet die behoeftes en welstand van die begunstigdes voorop stel.
  • Uitoefening van onafhanklike oordeel
    Trustees moet hul eie onafhanklike oordeel toepas wanneer besluite geneem word en in staat wees om daardie besluite met deeglike motivering te staaf. Dit is veral belangrik in omstandighede waar uiteenlopende standpunte bestaan en eksterne druk uitgeoefen kan word om ’n trustee se besluit te beïnvloed.
  • Vermyding van botsende belange
    Trustees moet, sover dit redelikerwys moontlik is, situasies vermy waar persoonlike belange met hul fidusiêre pligte kan bots. Waar sodanige botsings ontstaan, moet dit aan medetrustees openbaar word, en die betrokke trustee behoort nie aan die tersaaklike besluitnemingsproses deel te neem nie.

Die volgende is kern-administratiewe verantwoordelikhede van ’n trustee:

  • Nakoming van die trustakte
    Die trustakte vorm die grondslag van die trust se fidusiêre riglyne. Trustees is wetlik verplig om die trust streng ooreenkomstig die bepalings daarvan te administreer. Versuim om dit te doen kan trustees aan persoonlike aanspreeklikheid blootstel.
  • Bestuur van trustbates
    Trustees word met die bestuur van die trust se bates toevertrou. Dit sluit in die opening van ’n afsonderlike bankrekening in die naam van die trust, asook die verantwoordelike aanwas, beskerming en belegging van bates om die langtermyn-volhoubaarheid van die trust te ondersteun.
  • Handhawing van akkurate en bygewerkte rekords
    Trustees moet toesien dat akkurate rekeningkundige rekords gehou word, jaarlikse finansiële state opgestel word en dat alle belastingnakomingsvereistes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nagekom word. Die nakomingsomgewing het die afgelope jare wesenlik ontwikkel, wat die aanspreeklikheid en verslagdoeningsverantwoordelikhede van trustees verhoog het.
  • Aanspreeklikheid vir aksies en besluite
    Trustees moet in staat wees om rekenskap te gee van alle aksies en besluite met betrekking tot trustbates en uitkerings aan begunstigdes. Besluite, asook die motivering daarvoor, moet behoorlik gedokumenteer en in trustresolusies vervat word. Hierdie resolusies moet vervolgens deur die trustees onderteken word, en enige teenkanting teen besluite moet waar van toepassing aangeteken word.

Die rol van ’n trustee is belangriker as ooit en moet met erns benader word. Dit is nie meer bloot ’n titel op papier nie, maar ’n aktiewe posisie wat deurlopende toewyding, gesonde oordeel en streng nakoming van fidusiêre beginsels vereis.

Het u enige verdere vrae oor die rol en verantwoordelikhede van ‘n trustee? Reik gerus uit na Jacques Potgieter by JacquesP@asl.co.za.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X