Lees die artikel in Engels hier: Remitting funds abroad by non-resident taxpayers
Individue wat nie meer Suid-Afrikaanse belastinginwoners is nie, behou dikwels bates, beleggings of ander belange in Suid-Afrika. Die daaropvolgende verkoop van hierdie bates, erflatings of uitkerings vanuit Suid-Afrikaanse trusts kan daartoe lei dat fondse beskikbaar word vir oorplasing na die buiteland.
Die oorplasing van hierdie fondse vereis oor die algemeen goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en, waar meer as R10 miljoen oorgeplaas moet word, kan dit ook goedkeuring van die Finansiële Toesigafdeling van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (FinSurv) vereis.
Anders as Suid-Afrikaanse belastinginwoners, beskik nie-inwoners nie oor ’n jaarlikse diskresionêre toelaag ingevolge waarvan fondse na die buiteland oorgeplaas kan word sonder die SAID se goedkeuring nie. Die proses wat gevolg moet word, hang hoofsaaklik daarvan af of die nie-inwoner steeds by die SAID geregistreer is, die bron van die fondse en die bedrag wat oorgeplaas moet word.
Goedkeuring vir Internasionale Oorplasing (AIT)
‘n Nie-inwoner wat steeds by die SAID geregistreer is, verkry oor die algemeen goedkeuring om fondse na die buiteland oor te plaas deur ‘n Goedkeuring vir Internasionale Oorplasing (AIT) aansoek via die Belastingnakomingstatus-funksionaliteit op eFiling in te dien.
‘n AIT-aansoek vereis meer as net bevestiging dat die belastingbetaler se opgawes en betalings op datum is. Die SAID vereis breedvoerige inligting oor die belastingbetaler se bates en laste en, belangrik, stawende dokumentasie wat die bron van die fondse wat oorgeplaas moet word, bevestig.
Die algemene stawende dokumentasie sluit bewyse in wat die bron van die kapitaal bevestig, asook ‘n staat van bates en laste vir die voorafgaande drie belastingjare, insluitend beleggings, leningsrekeninge en uitkerings vanaf plaaslike en buitelandse maatskappye en trusts.
As ‘n nie-inwoner moet die aansoeker ook bewys lewer dat hulle nie meer ‘n inwoner vir Suid-Afrikaanse belastingdoeleindes is nie, asook die datum waarop hul Suid-Afrikaanse belastinginwonerstatus beëindig is. Waar van toepassing, word ‘n gedetailleerde berekening van kapitaalwinsbelasting met betrekking tot die geagte vervreemding van bates by die beëindiging van Suid-Afrikaanse belastinginwonerstatus ook vereis.
Die presiese stawende dokumente sal afhang van die bron van die fondse. ‘n AIT-aansoek moet daarom beskou word as beide ‘n proses om die bron van die fondse te staaf en ‘n belastingnakomingsaansoek, met ‘n duidelike gedokumenteerde bewysspoor vanaf die oorspronklike bron van die kapitaal tot by die bedrag wat uiteindelik vir oorplasing beskikbaar is.
Trustuitkerings aan nie-inwoner begunstigdes
Trustuitkerings vereis spesifieke aandag waar die begunstigdes nie meer ‘n Suid-Afrikaanse belastinginwoner is nie.
Met ingang van 1 Maart 2025 is die deurvloei-beginsel vervat in artikel 25B van die Inkomstebelastingwet beperk tot belastinginwoner begunstigdes. Gevolglik is inkomste wat aan ‘n nie-inwoner begunstigde gevestig of aan hulle uitgekeer word, in die hande van die Suid-Afrikaanse trust belasbaar. Die inkomste moet dus eers in die trust belas word, waarna opgelope trustkapitaal aan ‘n nie-inwoner kapitaalbegunstigde uitgekeer kan word, onderhewig aan die trustakte en toepaslike belastingvereistes.
Hierdie onderskeid is veral belangrik wanneer fondse vervolgens na die buiteland oorgeplaas word. Die SAID vereis spesifieke stawende dokumentasie vir trustuitkerings, en die trustees moet in staat wees om die aard en bron van die uitkering, hoe die opgelope trustkapitaal ontstaan het, en dat die relevante Suid-Afrikaanse belastingverpligtinge vereffen is of sal word, te kan uiteensit.
Die belastinggevolge asook vereiste stawende dokumentasie moet daarom oorweeg word voordat die uitkering gemaak word, eerder as eers wanneer die nie-inwoner begunstigde die fondse daarna na die buiteland wil oorplaas.
Belastingnakomingsbrief
‘n Ander proses is van toepassing waar ‘n nie-inwoner nie meer op die SAID se belastingbetalersdatabasis geregistreer is nie en gevolglik nie ‘n AIT-aansoek via eFiling kan indien nie.
Waar goedkeuring van die SAID vereis word, moet die nie-inwoner direk by die SAID aansoek doen vir ‘n Manual Letter of Compliance – Transfer of Funds, oftewel ‘n MLC. Die applikant moet onder andere bewys lewer wat hul nie-inwonerstatus of verblyf in die buiteland bevestig, tesame met dokumentasie wat die bron en bedrag van die fondse wat oorgeplaas moet word, staaf.
Vir nie-inwoner begunstigdes wat nie meer op die SAID se belastingbetalersdatabasis geregistreer is nie, vereis die SAID spesifiek ‘n MLC vir die oorplasing van ‘n uitkering wat vanaf ‘n Suid-Afrikaanse trust ontvang is, ongeag die bedrag wat uitgekeer is.
Daar is beperkte uitsonderings op die algemene MLC-vereiste. Waar ‘n nie-inwoner wat nie meer aktief op die SAID se databasis is nie, ‘n erflating of kwalifiserende lewensversekeringspolisbetaling van hoogstens R10 miljoen ontvang, word ’n MLC normaalweg nie vereis nie. Indien sodanige bedrag R10 miljoen oorskry, word ’n MLC wél vereis.
Oorplasings van meer as R10 miljoen
‘n Bykomende regulatoriese vereiste ontstaan waar ‘n nie-inwoner meer as R10 miljoen na die buiteland wil oorplaas. Die verkryging van die nodige SAID-goedkeuring voltooi nie die proses nie. Na goedkeuring van die AIT of MLC, waar van toepassing, is die voorgenome oorplasing ook onderhewig aan goedkeuring deur FinSurv. Die aansoek word deur ‘n Gemagtigde Handelaar (Authorised Dealer) ingedien, gewoonlik die Suid-Afrikaanse bank wat die oorplasing fasiliteer, en nie direk deur die belastingbetaler nie.
Daar is dus twee goedkeuringsfases vir hierdie groter oorplasings. Die belastingbetaler verkry eerstens die toepaslike SAID-goedkeuring deur middel van ‘n AIT-aansoek of MLC. Daarna dien die Gemagtigde Handelaar die voorgenoeme oorplasing by FinSurv in, met die SAID-goedkeuring as deel van die stawende dokumentasie.
SAID-goedkeuring van ‘n oorplasing van meer as R10 miljoen is gevolglik nie op sigself voldoende om die fondse na die buiteland oor te plaas nie. Die bykomende FinSurv-goedkeuring moet ook verkry word.
Beplanning van die oorplasing
Die oorplasing van fondse deur nie-inwoners kan besonder kompleks raak waar die fondse uit ouer beleggings, die vervreemding van Suid-Afrikaanse bates of uitkerings vanuit Suid-Afrikaanse trusts voortspruit. Vertragings ontstaan dikwels waar die dokumentasie wat benodig word om die bron en belastinghantering van die fondse vas te stel, onvolledig is of nie met inligting wat voorheen aan die SAID verskaf is, ooreenstem nie.
Dit is veral belangrik by trustuitkerings aan nie-inwoner begunstigdes. Trustees behoort die Suid-Afrikaanse belastinggevolge te oorweeg voordat die uitkering gemaak word en voldoende dokumentasie te bewaar om die bron en kapitaaloorsprong van die bedrag wat uiteindelik uitgekeer word, aan te toon.
Nie-inwoners wat ‘n aansienlike bedrag wil oorplaas, behoort eweneens te verseker dat hul belastinginwoningstatus korrek by die SAID aangeteken is, dat enige uitstaande Suid-Afrikaanse belastingverpligtinge aangespreek is en dat voldoende dokumentasie beskikbaar is om die bron van die fondse te staaf.
Waar die oorplasing meer as R10 miljoen beloop, behoort die Gemagtigde Handelaar ook vroegtydig betrek te word om die vereistes vir die daaropvolgende FinSurv-aansoek vas te stel.
Sorgvuldige beplanning van die onderliggende transaksie en voorbereiding van die AIT- of MLC-aansoek kan die risiko van vertragings wanneer fondse uiteindelik na die buiteland oorgeplaas word, aansienlik verminder.