Die konsep Wysigingswet op Belastingwette van 2020 (TLAB) en die konsep Wysigingswet op Belastingadministrasie van 2020 (TALAB), was deur Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) op 31 Julie 2020 gepubliseer. Hierdie konsep wetgewing hou verband met die konsep wysigings wat tydens die Begrotingsrede van 2020 deur die Minister van Finansies op 26 Februarie 2020 aangekondig is.
In hierdie artikel, sal ons die voorgestelde wysigings in die konsep TLAB en TALAB kortliks oorweeg.
Besigheidsreis
In die konsep wetgewing, met effek van 1 Maart 2021, word daar voorgestel dat waar ‘n werknemer vergoed word vir enige uitgawes aangegaan tydens ‘n daguitstappie vir besigheidsdoeleindes ten opsigte van maaltye en ander toevallighede, die vergoeding nie belasbaar sal wees nie.
Beurse deur werkgewers toegestaan
Die konsep TLAB stel ook voor dat beurse wat deur ‘n werkgewer toegestaan word aan familielede van ‘n werknemer, vanaf 1 Maart 2021 nie meer van inkomstebelasting vrygestel sal word nie, tensy:
Die onttrekking van aftreefondse tydens emigrasie
Volgens die huidige bepalings van ons belastingwetgewing, mag individue hul aftreefonds onttrek voor aftree ouderdom bereik is mits hul emigreer, waar die emigrasie deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank erken word. Aangesien die konsep van emigrasie uitgefaseer word deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank, sal ‘n nuwe vereiste in plek gestel moet word vir individue om hul aftreefonds te onttrek wanneer hulle Suid-Afrika verlaat.
Met betrekking tot die voorgestelde konsep TLAB, word ‘n nuwe vereiste voorgelê, naamlik, dat die onttrekking slegs toelaatbaar is indien die individu bewyse kan lewer dat hy of sy vir drie agtereenvolgende jare nie ‘n Suid-Afrikaanse belastinginwoner was nie. Dit is dus toenemend belangrik dat belastingbetalers die SAID in kennis stel van hul belastinginwonerstatus en die effektiewe datum daarvan.
Teenvermydingsmaatreëls met betrekking tot lenings aan ‘n trust
Huidige belastingswetgewing bevat teenvermydingsmaatreëls om die belastingvrye oordrag van bates na ‘n trust, deur middel van lae rente of rentevrye lenings, te bekamp. Die konsep TLAB stel daar waar daar ingeteken word op voorkeuraandele in ‘n maatskappy wat besit word deur ‘n trust, die intekeningskoste as ‘n lening beskou sal word in die hande van die intekenaar vanaf 1 Januarie 2020. Hierdie lening sal dan ook onderworpe wees aan die huidige teenvermydingsmaatreëls. Verder word daar ook voorgestel dat enige dividende wat verklaar is met betrekking tot voorkeuraandele, eerder as rente op die voorgestelde lening beskou sal word.
Teenvermydingsmaatreëls rakende die verandering van die belastinginwonerstatus van SA maatskappye
Die konsep TLAB stel ook teenvermydingsmaatreëls voor om transaksies aan te spreek waar ‘n Suid-Afrikaanse inwonermaatskappy hul belastinginwonerstatus verander, waarna die Suid-Afrikaanse aandeelhouers hul aandele in hierdie maatskappy sal beskik, en daardeur die deelnemingsvrystelling wat beskikbaar is, te misbruik.
Kriminele Vervolging
Met betrekking tot die konsep TALAB, word daar voorgestel dat die bewyslas wat deur die SAID vereis word om kriminele vervolging vir belasting-verwante oortredings in te stel, verlaag word deur die vereiste van opset van die belastingbetaler te verwyder.
Beraamde aanslae
Daar word ook voorgestel dat die SAID toegelaat moet word om beraamde aanslae uit te reik waar ‘n belastingbetaler versuim om relevante dokumentasie te verskaf aan die SAID, nadat meer as een versoek van die SAID uitgereik het.
Die Nasionale Tesourie en die SAID het geskrewe terugvoer op die konsep wetgewing verwelkom tot en met 31 Augustus 2020. Verdere wysigings tot die voorgenome voorstelle word dus verwag voordat die konsep wetgewing gefinaliseer word.