Die Wysigingswetsontwerp op Suid-Afrikaanse Maatskappye (“die Wetsontwerp”) is op 21 September 2018 vir publieke kommentaar gepubliseer. Wesenlike wysigings aan die bestaande Maatskappywet No 71 van 2008 (“Maatskappywet”) wat in 2011 in werking getree het, is voorgestel. Die moontlike wysigings wat van krag kan wees, hou verband met die volgende artikels in die Maatskappywet:
1. Artikel 16 wat handel oor die effektiewe datum van wysigings aan die bestaande memorandum van inkorporasie van ’n maatskappy
Die Wetsontwerp stel voor dat wysigings van krag sal word 10 besigheidsdae nadat die kennisgewing van die wysiging ingedien is, sou die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (“CIPC”) na die verstryking van die 10 besigheidsdae nie die kennisgewing van die wysiging vroeër geregistreer het nie of versuim het om die wysiging met redes te verwerp.
2. Artikel 30 wat handel oor die openbaarmaking van vergoeding betaalbaar aan ‘voorgeskrewe beamptes’
Daar word voorgestel dat die vergoeding en voordele wat deur ‘voorgeskrewe beamptes’ benewens direkteure, ontvang word, in die geouditeerde finansiële jaarstate van die maatskappy openbaar gemaak word. Elke individu moet genoem word. ’n Voorgeskrewe beampte is tipies ‘n uitvoerende beampte wat in staat is om die bestuur van die maatskappy te beïnvloed.
3.Artikel 30A wat handel oor die direkteursvergoedingsverslag
Die direkteure van ’n publieke maatskappy sal ’n direkteursvergoedingsverslag moet opstel vir voorlegging aan aandeelhouers op die Algemene Jaarvergadering.
4. Artikel 38(A) wat handel oor die aandelekapitaalstruktuur van maatskappye
Tans maak die Maatskappywet nie voorsiening vir ’n maatskappy om sy aandelekapitaalstruktuur reg te stel waar dit foute bevat nie. Daar word voorgestel dat ’n maatskappy of enige belanghebbende toegelaat moet word om ’n hof te nader vir ‘n bevel wat die skepping, toewysing of uitreiking van aandele bekragtig. Hierdie voorgestelde wysiging was ingesluit in die vorige Maatskappywet van 1973, maar sederdien is daar ‘n gaping in die huidige wetgewing aangaande hierdie aangeleentheid.
5. Artikel 45 wat handel oor finansiële bystand binne ’n groep maatskappye
Enige finansiële bystand wat deur ’n maatskappy aan sy filiaal verleen word, moet deur die direksie en die aandeelhouers by wyse van ’n spesiale besluit gemagtig word. Die nuwe Wysigingswetsontwerp stel voor dat die spesiale besluitvereiste nie van toepassing is indien ’n maatskappy finansiële bystand aan sy eie filiaal verleen nie.
6. Artikel 48 wat handel oor aandeel terugkoop transaksies.
Die Wysigingswetsontwerp vereis dat ’n aandeel terugkoop transaksie goedgekeur moet word deur ‘n spesiale besluit van aandeelhouers indien aandele teruggekoop moet word van ‘n direkteur, ‘n voorgeskrewe beampte of ’n persoon wat verwant is aan ’n direkteur of voorgeskrewe beampte. ’n Spesiale aandeelhouersbesluit sal ook nodig wees indien die terugkoop verband hou met ’n ander verkryging buiten ‘n pro rata aanbod aan alle aandeelhouers of die transaksie wat in die gewone loop van omstandighede op ’n aandelebeurs gedoen word.
7. Artikel 61 en Artikel 62 wat handel oor sosiale en etiese komitees
Ingevolge die nuwe wysiging is dit verpligtend dat ’n publieke maatskappy of ’n maatskappy in staatsbesit op elke algemene jaarvergadering ’n maatskaplike en etiese komitee aanstel. Hierdie verpligte bepaling maak voorsiening dat maatskappye by die Maatskappytribunaal aansoek kan doen om vrystelling van hierdie vereistes indien die maatskappy ’n ander meganisme binne sy strukture het om die funksies van die komitee te verrig, of indien dit nie in die openbare belang nodig is om van die maatskappy te vereis om sulke komitees te hê nie, met inagneming van die aard en omvang van die bedrywighede van die maatskappy.
8. Artikel 90 wat handel oor die aanstelling van ouditeure
Die Maatskappywet verbied tans ’n persoon wat binne die voorafgaande vyf jaar ’n noue werksverhouding met die maatskappy gehad het (byvoorbeeld ’n direkteur, ’n voorgeskrewe beampte, werknemer of konsultant) om as ouditeur aangestel te word. Daar word voorgestel dat die vyfjaar tydperk tot twee jaar verminder word.
9. Artikel 118 wat handel oor die toepassing van die Oornameregulasies op privaatmaatskappye
Daar word voorgestel dat die Oornameregulasies slegs van toepassing moet wees ten opsigte van ’n ‘geaffekteerde transaksies’ of ’n ‘aanbod’ wat ‘n privaatmaatskappy of sy aandele betrek, indien vereis word dat die privaatmaatskappy sy finansiële state moet laat oudit of as sy memorandum van inkorporasie vereis dat dit gedoen word.
10. Artikels 135 en 145 wat handel oor besigheidsredding en die behandeling van verhuurders
Die Wetsontwerp maak voorsiening vir ’n situasie waar bedrae deur ’n maatskappy onder besigheidsbereddering aan ’n verhuurder verskuldig is vir huur of dienste. Hierdie bedrae sal as aanvangsfinansiering beskou word, en die verhuurder sal ’n stembelang hê in die ondernemingreddingsverrigtinge tot die mate van sy eis.
11. Artikel 160 wat handel oor geskille rakende maatskappyname
Die Maatskappytribunaal kan handel met geskille rakende maatskappyname. Daar word voorgestel dat waar ‘n maatskappy beveel is om sy naam te verander en dit nie doen nie, die CIPC sy registrasienommer mag vervang as die naam van die betrokke maatskappy.
12. Artikel 195 wat handel oor Swart Ekonomiese Bemagtiging
Die Wetsontwerp beoog om die Maatskappytribunaal die mag te gee om sake te hanteer wat deur die SEB-kommissie verwys word.
Dit is belangrik om kennis te neem dat bogenoemde in hierdie stadium slegs voorgestelde wysigings is en nog nie in wetgewing vervat is nie. Sodra al hierdie of sommige van hierdie wysigings in wetgewing opgeneem is, sal ons u dienooreenkomstig inlig.
Indien u enige vrae sou hê ten opsigte van die inhoud van hierdie artikel, kontak gerus vir Arné Bester (arne@asl.co.za) of u verhoudingsdirekteur.