
Die derde kwartaal van 2025 is gekenmerk deur belangrike ekonomiese verwikkelinge wat die besigheidslandskap direk raak. Plaaslik het die Reserwebank se besluit om die repokoers met 25 basispunte te verlaag, ’n sterker rand en ’n effense afplatting in inflasie ’n mate van verligting aan ondernemings gebied. Die verbetering in elektrisiteitsvoorsiening en die hernude fokus op infrastruktuurontwikkeling het ook bygedra tot groter sakevertroue. Internasionaal het wêreldmarkte steeds onder druk gebly weens geopolitieke spanning en wisselende vraag na kommoditeite, maar die volgehoue belegging in tegnologie en digitalisering het nuwe groei- en mededingingsgeleenthede geskep.
Te midde van hierdie veranderende landskap is ons trots om terug te kyk op ’n belangrike mylpaal in ASL se geskiedenis: op 1 Augustus het ons ons 27ste bestaansjaar gevier. Hierdie reis is ‘n getuienis van die waarde van volgehoue investering in verhoudings en die krag van samewerking en sou nie moontlik gewees het sonder die vertroue en lojaliteit van ons kliënte en personeel nie – iets waarvoor ons opreg dankbaar is.
Nou staan ons in die finale pylvak van 2025 met slegs drie maande oor om alles in te sit om doelwitte te bereik en die jaar sterk af te sluit. Soos die afgelope 27 jaar bevestig ons weer ons verbintenis: u bly ons prioriteit en ons sien uit daarna om hierdie laaste kwartaal met vasberadenheid en optimisme saam met u aan te pak, om u vennoot te wees, nie net in die nakoming van verpligtinge nie, maar ook in die strewe na groei en waarde.
Beste wense
Pieter, Christa, Jaco, Reinhard & Jacques