Foreword
October 6, 2022
With gratitude in our hearts, we bid a fond farewell to Arnold Scholtz
October 6, 2022
Terwyl ons die laaste kwartaal van 2022 aanpak, wil ons van hierdie geleentheid gebruik maak om as ‘n besigheid stil te staan – om met dankbaarheid, wysheid en insig oor die afgelope paar maande te reflekteer, en om met hoop en afwagting na die toekoms te kyk, standvastig in wie ons is.

Met hierdie refleksie kom die geleentheid om te leer en te groei, en ons wil graag van die insigte waartoe ons gekom het met julle deel terwyl ons na 2023 beweeg.

Eerstens het ons opnuut besef dat ons mense ons grootste bate is. Ons span het vanjaar saamgetrek en ‘n verenigde front gevorm om mekaar te ondersteun en aan te moedig, en ons is trots daarop dat hulle voortgaan om ons kliënte van uitstekende diens en advies te voorsien.

Ons het ook geleer dat aanpasbaarheid noodsaaklik is wanneer dit by besigheid kom. Ons aanpasbaarheid, vanaf die ontstaan van ons besigheid, maar veral die afgelope drie jaar, was noodsaaklik vir ons voortbestaan, groei en sukses en sal ook in die toekoms noodsaaklik bly.

Ten slotte, het ons geleer dat dit belangriker as ooit is om getrou aan ons waardes te bly. In ‘n voortdurend-veranderende wêreld bied ons waardes ‘n anker. Dit rig ons besluite en help ons om gefokus te bly op wie ons is en op dit wat werklik belangrik is.

In die toekoms sal ons voortbou op hierdie insigte en bly ons daartoe verbind om die beste moontlike ervaring aan ons kliënte te lewer.

Met hierdie insigte stewig in ons gedagtes, sal ons aan die einde van Desember 2022 met ‘n gerustheid van Arnold Scholtz afskeid neem.

Na meer as twee dekades as direkteur by ASL sal Arnold ‘n groot leemte laat, maar gun ons hom ook nou die tyd om hom voltyds op sy ander passies en belangstellings toe te spits. (Lees gerus meer hieroor op Bladsy 5.)

Ons gesamentlike span van ongeveer 100 personeellede was nog altyd daartoe verbind om gehaltediens aan ons kliënte te lewer. Ons wil graag op hierdie verbintenis voortbou in ons bestaande en gevestigde verhoudinge.

Ons sien met hoop en afwagting uit na die toekoms, stewig gegrond in wie ons is – ‘n groep wat verbind is tot ons waardes en kliënte.

Ons wens u, u besigheid en geliefdes net die beste toe vir die oorblywende gedeelte van 2022.

Dankie vir julle volgehoue vertroue en ondersteuning.

Met vriendelike groete
ASL

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X