Die jaar is besig om verby te snel en ons is bykans in die laaste kwartaal van 2021. Ons wens elkeen sterkte en voorspoed toe met daardie laaste take wat nog afgehandel moet word voor die meeste van ons ʼn welverdiende ruskans geniet en op 2021 reflekteer.
Soos sommige van julle reeds van bewus mag wees, is een van ons vennote, Jaco van Straaten, al ʼn geruime tyd nie op kantoor nie. Ons deel graag kortliks met julle die agtergrond en oorsaak rondom sy afwesigheid.
Jaco het vroeg in Julie COVID-19 opgedoen en is sowat ʼn week na die diagnose gehospitaliseer. Sy toestand het aanvanklik goed verbeter en hy is ʼn rukkie daarna ontslaan, waarna hy verder tuis aangesterk het. Ongelukkig is Jaco weens verdere komplikasies vroeg in Augustus weer gehospitaliseer. Ons is dankbaar en verlig dat sy toestand oor die afgelope paar weke aansienlik verbeter het, maar dit is tans onseker presies wanneer Jaco weer sal terugkeer kantoor toe.
Ons gun vir Jaco die tyd en geleentheid om ten volle te herstel voor hy weer terugkeer kantoor toe om sy onskatbare bydrae tot ASL se sukses voort te sit.
Ons wil ook graag al sy kliënte en sakekennisse bedank vir hul meelewing en belangstelling in sy herstelproses. Ons waardeer dit opreg! Dankie vir julle geduld met die afhandeling van projekte en dat julle ons vertrou dat dienslewering en gehaltebeheer geensins ingekort sal word tydens sy afwesigheid nie. Neem asseblief die vrymoedigheid om na een van die oorblywende vennote uit te reik indien daar enige kommer of navrae opduik oor projekte waarby Jaco betrokke is.
Geniet die nuusbrief propvol inligting oor huidige relevante aangeleenthede en nuus oor ASL.
Vriendelike groete
ASL