Skip to main content

ASL – Expert Accounting Services

ASL by Stellenbosch Universiteit loopbaandag 2026

Op 5 Augustus het ASL deelgeneem aan Stellenbosch Universiteit se jaarlikse loopbaandag – ’n wonderlike geleentheid om met ’n groep energieke en ambisieuse voornemende gegradueerdes in gesprek te tree.

Ons span het die geleentheid gehad om ons ervaring, insigte en passie vir professionele ontwikkeling te deel, asook meer te vertel oor die opwindende SAIGR-, SAIPR- en CIMA-programme wat ASL aanbied.

Ons was beïndruk deur die talent, entoesiasme en potensiaal van die studente wat ons ontmoet het. By ASL glo ons daarin om jong talent te ontwikkel, geleenthede te skep en die volgende generasie professionele persone toe te rus vir ’n suksesvolle loopbaan.

Ons sien daarna uit om moontlik van hierdie belowende jong individue in die toekoms as deel van die ASL-span te verwelkom! Indien jy belangstel om by ons #ASLtalent-span aan te sluit, is jy welkom om jou CV te stuur na talent@asl.co.za.

ASL vier Mandeladag by Tereo Gemeenskapskool

Die ASL-span het op Vrydag, 24 Julie, die voorreg gehad om tyd saam met die leerders van Tereo Skool deur te bring. In die gees van Madiba se nalatenskap van omgee, diensbaarheid en teruggee, het ons span hul 67 minute (en nog ’n bietjie!) gewy aan die skep van glimlagte, lag en bemoediging vir die kinders.

Ons het elke klas besoek en aan verskeie aktiwiteite deelgeneem, waartydens die kinders die geleentheid gekry het om hul kreatiwiteit en koördinasie te ontwikkel en te beoefen. Daarna is die kinders met ’n middagete, asook speletjies op die skoolterrein, bederf.

Mandeladag herinner ons daaraan dat selfs die kleinste dade van vriendelikheid ’n groot verskil kan maak. By ASL is ons daartoe verbind om ons gemeenskappe op te hef en die waardes van deernis, eenheid en omgee, waarvoor Nelson Mandela gestaan het, uit te leef.

ASL vier Nasionale Vrouedag deur ’n verskil te maak

Ter viering van Nasionale Vrouedag en Vrouemaand gedurende Augustus, het ASL vanjaar ’n sanitêre doekie-insameling aangebied met die doel om ’n betekenisvolle verskil in die lewens van jong meisies en vroue te maak.

Ons span het saamgestaan om sanitêre produkte in te samel, wat vervolgens aan Girls With Wiings, ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop fokus om meisies en vroue te ondersteun en te bemagtig, geskenk is.

Die inisiatief was meer as net ’n skenking – dit was ’n geleentheid vir ASL om bewustheid te skep rondom die belangrikheid van toegang tot basiese sanitêre produkte en die impak wat dit op ’n jong meisie se waardigheid, selfvertroue en daaglikse lewe kan hê. Ons is trots op ons span se betrokkenheid en bereidwilligheid om terug te gee aan die gemeenskap. Deur klein dade van omgee en ondersteuning kan ons saam ’n groter verskil maak.

Besoek gerus www.girlswithwiings.org.za indien jy ook belangstel om ‘n verskil te maak in jong meisies en vroue se toegang tot basiese sanitêre produkte.

Op ASL se 28ste bestaansjaar!

Ter viering van ASL se 28ste bestaansjaar en om die tweede helfte van die jaar met nuwe energie en entoesiasme aan te pak, het ons op 6 Augustus ons jaarlikse halfjaarfunksie by Thirsty Scarecrow in Stellenbosch gehou. Dit was ’n besonderse geleentheid om vir ’n oomblik stil te staan, ons prestasies te vier en dankbaarheid uit te spreek teenoor die mense wat ’n belangrike rol in ASL se voortgesette groei en sukses speel.

Die funksie het aan alle personeel die geleentheid gebied om weg te breek van die alledaagse werksroetine, saam te kuier en die sterk spanverhoudings wat ASL kenmerk, verder te versterk.

Met 28 jaar se groei, ontwikkeling en sukses agter die rug, sien ons met hernude energie uit na die res van die jaar en alles wat nog voorlê. Op nog baie jare van saam groei, saam presteer en saam sukses vier!

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X