Ons wil graag onder u aandag bring dat die Inligtingsreguleerder (“Reguleerder”) ‘n formele kennisgewing uitgereik het waarin die indiening van PAIA-jaarverslae vir die 2025/2026-finansiële jaar versoek word. Hierdie versoek stem ooreen met die Reguleerder se versoek gedurende beide die 2024- en 2025-kalenderjare.
Die indiening van PAIA-jaarverslae is ‘n verpligte wetgewende vereiste ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (“PAIA”) en die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (“POPIA”). Geen drempel of vrystelling is op hierdie vereiste van toepassing nie.
Let asseblief daarop dat kliënte wat saam met hul onderskeie Inligtingsbeampte op die eDienste-portaal geregistreer is, reeds kommunikasie in hierdie verband van die Reguleerder sou ontvang het.
• Verantwoordelike partye: Alle openbare sowel as private liggame. Soos hierbo genoem, is geen drempel of vrystelling van toepassing nie.
• Indieningstydperk: Die aanlyn indieningsvenster het op 1 April 2026 geopen en sluit op 30 Junie 2026. Die Reguleerder het aangedui dat geen uitstel toegestaan sal word nie.
Alle verantwoordelike partye word sterk aangemoedig om hul jaarverslae so vroeg moontlik in te dien om stelselopeenhoping en gevolglike nie-nakoming nader aan die sluitingsdatum van die indieningstydperk te vermy.
Neem asseblief kennis dat liggame nie die jaarverslag sal kan indien tensy die Inligtingsbeampte suksesvol by die Reguleerder geregistreer is nie.
• Inligting wat gerapporteer moet word: U sal ‘n lys vrae ontvang wat beantwoord moet word vir die periode 1 April 2025 tot 31 Maart 2026. Hierdie vrae hou slegs verband met versoeke ingedien ingevolge die PAIA proses en sluit onder meer die volgende in:
- Die aantal versoeke om toegang wat ontvang is
- Die aantal versoeke om toegang wat ten volle toegestaan is
- Die aantal versoeke om toegang wat ingevolge artikel 46 toegestaan is
- Die aantal versoeke om toegang wat ten volle geweier is
- Die aantal versoeke om toegang wat gedeeltelik geweier is
- Die aantal gevalle waarin die tydperke soos bepaal in artikel 25(1), ingevolge artikel 26(1) verleng is
- Die aantal interne appèlle wat by die betrokke owerheid ingedien is
- Die aantal gevalle waarin, as gevolg van ‘n interne appèl, toegang tot ‘n rekord of ‘n deel daarvan verleen is
- Die aantal interne appèlle wat ingedien is op grond daarvan dat ‘n versoek om toegang as geweier beskou is ingevolge artikel 27
- Die aantal beslissings van die Inligtingsreguleerder waarteen hersiening aangevra is
- Die aantal aansoeke wat by elke hof ingedien is, sowel as die uitslag daarvan, en die aantal beslissings waarteen by elke hof geappelleer is en die uitslag daarvan
- Die aantal aansoeke by elke hof wat ingedien is op grond daarvan dat ‘n interne appèl as van die hand gewys beskou is ingevolge artikel 77(7).
Die stelsel sal ‘n bevestigingsbladsy vertoon sodra u PAIA-jaarverslag suksesvol ingedien is. U sal ook ‘n e-pos ter bevestiging ontvang.
• Indieningsplatform: Verslae moet ingedien word via die Reguleerder se eDienste-portaal: https://eservices.inforegulator.org.za.
‘n Nuttige handleiding is ook by bogenoemde adres beskikbaar.
Dit is noodsaaklik om te verseker dat aan hierdie vereistes voldoen word om potensiële strawwe te vermy en deursigtigheid binne u organisasie te handhaaf.
Indien u organisasie nog nie oor ‘n PAIA-handleiding beskik nie, kan u na die voorbeelde verwys wat beskikbaar is op bogenoemde portaal, of alternatiewelik met ons in verbinding tree sodat ons u in kontak kan bring met ‘n diensverskaffer wat u kan help met die voorbereiding daarvan.