Na meer as 2 dekades in praktyk as deel van die ASL Groep het Arnold besluit dat die tyd reg is om sy ander passies en belangstellings, waar hy reeds die laaste aantal jaar op ‘n deeltydse basis betrokke was, buite ASL en buite praktyk te gaan navolg. Hy sal aan die einde van Desember 2022 die groep verlaat.
Arnold het gedurende 1999 sy klerkskap begin by die destydse Phillip Marais & Kie (voorloper tot die ASL Groep) en is spoedig bevorder tot bestuurder en direkteur, ‘n pos wat hy sedertdien met groot sukses beklee. Gedurende hierdie tyd het hy besonderse verhoudinge gebou met baie van ons kliënte en verskeie gehelp om hul eie drome vir hul besighede en naasbestaandes te verwesenlik deur sy besonderse passie vir besigheid. Netso het hy deur sy verbintenis tot ons personeel help bou aan besonderse mense en besonderse loopbane – baie van wat vandag nog deel van die ASL Groep is en verskeie wat vandag poste regoor die wêreld beklee.
Arnold is ‘n mentor, ‘n visioenêr en sy bydrae tot die uitbou van die ASL Groep tot wat dit vandag is, is besonders.
Ons spreek ons grootste waardering uit vir sy onbaatsugtige diens, die drome wat ons saam kon droom, die lesse wat ons moes leer, maar bowenal die kameraadskap wat ons as ‘n direksie kon deel.
Ons wens Arnold alle voorspoed en sukses toe met hierdie nuwe hoofstuk.
ASL Groep | Direkteure, bestuur en personeel