Skip to main content

ASL – Expert Accounting Services

Kuberveiligheidsbedreigings bly ‘n voortdurende risiko vir ondernemings van alle groottes. Skending van data, kwaadwillige sagteware aanvalle en uitvisskema’s (phishing), kan operasionele bedrywighede ontwrig, reputasieskade aanrig en tot aansienlike finansiële verliese lei. Doeltreffende defensiewe kuberveiligheidstrategieë behels die gebruik van tegnologie, prosesse en protokolle om ‘n organisasie se rekenaarnetwerke, toestelle en sensitiewe data teen kwaadwillige aanvalle te beskerm.

In ons vorige kwartaallikse nuusbrief het ons beklemtoon dat defensiewe kuberveiligheid nie slegs oor tegnologie, hulpmiddels en stelsels gaan nie. Die menslike element is ewe belangrik – indien nie belangriker nie. Om die psigologiese en emosionele snellers te verstaan wat kubermisdadigers gebruik om ongemagtigde toegang tot inligting te verkry, is van kardinale belang om aanvalle te voorkom selfs nog voordat dit plaasvind.

In hierdie uitgawe brei ons verder uit op die onderwerp van “Sosiale Manipulasie” om u te help om verdagte e-posse of ander kommunikasie te identifiseer.

Belangrikste kenmerke:

  • Menslike gedrag eerder as tegniese kwesbaarhede word uitgebuit.
  • Behels dikwels misleiding, oortuiging of nabootsing.
  • Teiken vertroue, vrees, dringendheid of nuuskierigheid om slagoffers te manipuleer.

Voorbeelde van sosiale manipulasie waarop u moet let:

  • Uitvissing: Stuur van bedrieglike e-posse of boodskappe wat eg lyk om inligting te bekom of kwaadwillige sagteware te installeer.
  • Fabrikasie: Skep van ‘n fiktiewe scenario om inligting te bekom (bv. iemand wat voorgee om van IT-ondersteuning of ‘n ASL-werknemer te wees).
  • Lokval: Aanbieding van iets aanlokliks (bv. gratis sagteware of geheuestokkies) om slagoffers in ‘n strik te lei.
  • Agtervolging: Om iemand fisies te agtervolg in ‘n beveiligde area sonder behoorlike toestemming.
  • Geteikende uitvissing: ‘n Geteikende aanval op ‘n spesifieke individu of organisasie.

Ons sien al hoe meer dat KI gebruik word om slagoffers se vertroue uit te buit. Natuurlike Taalgenering (NTG) hulpmiddels soos groot taalmodelle kan hoogs persoonlike en grammaties korrekte uitvis e-posse, teksboodskappe of sosiale media boodskappe skep. Hierdie boodskappe boots die toon en styl van werklike persone na (bv. ‘n hoof uitvoerende beampte of ‘n kollega), wat die kans op sukses aansienlik verhoog. Vir ASL se Afrikaanssprekende kliënte beteken dit dat kubermisdadigers KI kan gebruik om in vlot Afrikaans te kommunikeer, wat dit nog moeiliker maak om die boodskap as verdag te herken.

Hoe om die kenmerke van ‘n verdagte e-pos raak te sien:

  • Dringende of dreigende taalgebruik: “Tree nou op of dra die gevolge!” – amptelike instansies dreig nie per e-pos nie.
  • Vals e-posadresse: Voorbeelde soos accountz@asl.co.za of asl@vodamail.co.za wat sensitiewe inligting versoek. Let op na die foute in die domeinnaam voor of na die “@”-teken in die e-pos.
  • Onverwagte aanhangsels of skakels: Moenie enigiets oopmaak of daarop kliek wat jy nie verwag het nie – veral as dit gemerk is as “faktuur” of “staat”.
  • Versoeke vir sensitiewe inligting: Geen amptelike instansie sal ooit jou bankbesonderhede, wagwoord of belastingnommer via e-pos of telefoon versoek nie.
  • Nabootsing van bekende kontakte: Wees op die uitkyk vir effens aangepaste name of e-posadresse wat voorgee om jou rekenmeester, bank of selfs ‘n kollega te wees.

Hoe speel KI ‘n rol?

  • E-posse sonder spel- of grammatikafoute, aangepas vir die slagoffer se taal.
  • Teksboodskappe of geoutomatiseerde gesprekke wat die skryfstyl van ‘n regte persoon naboots.
  • Gemanipuleerde oudio of video (deepfakes) wat die stem of voorkoms van ‘n vertroude persoon namaak.

Hoe om ‘n verdagte e-pos te identifiseer?

  • Beweeg altyd jou rekenaarmuis oor ‘n skakel om die regte bestemming te sien voor u daarop kliek.
  • Verifieer altyd die bron van die e-pos voordat u daarop reageer of enige skakel oopmaak.

In ons volgende uitgawe sal ons verdere kuberveiligheidsonderwerpe in meer besonderhede dek om ASL-kliënte ingelig en waaksaam te hou.

Oor Cyberlogic

Cyberlogic, ASL se voorkeur IT- en kuberveiligheidvennoot, het byna 30 jaar se ondervinding in die ontwikkeling van veilige, hoëprestasie IT-omgewings. Met ’n span van meer as 150 professionele persone in Suid-Afrika, Mauritius en die VK, spesialiseer ons in IT-leierskap, kuberveiligheid, data en analise, asook wolkoplossings. As deel van die Hyperclear Tech-groep bied ons innoverende tegnologie-oplossings, terwyl ons terugploeg deur ons nie-winsgewende inisiatief, Ride for a Child, wat onderwys vir minderbevoorregte kinders ondersteun.

Vir meer inligting, kontak francoisk@cyberlogic.co.za.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X