Korporatiewe bestuur is in wese die wyse waarop entiteite bestuur en gereguleer word. Suid-Afrikaanse wetgewing bevat verskeie vereistes waaraan maatskappye moet voldoen om ‘n goeie korporatiewe burger te wees. Dit is dus belangrik dat maatskappye bewus is van hierdie wetlike vereistes om sodoende te verseker dat hulle goeie korporatiewe bestuurspraktyke handhaaf.
Drie algemene foute is: (1) die versuiming om magtiging te verkry vir besluite wat geneem word; (2) die uitvoering en rekordhouding van aandeletransaksies; en (3) die gebrek aan kennis deur direkteure.
Magtiging
Dit is opvallend dat besluite wat deur die betrokke rolspelers van ‘n maatskappy geneem word, dikwels nie deur die nodige skriftelike magtiging ondersteun word nie. Direkteure se besluite met betrekking tot die uitreiking en toekenning van aandele gaan byvoorbeeld dikwels nie gepaard met die vereiste besluit wat die transaksie toelaat nie.
Aandeletransaksies
Die behoorlike uitvoering en rekordhouding van aandeletransaksies is moontlik die algemeenste risiko wat geïdentifiseer is. Maatskappye reik gewoonlik die nodige aandelesertifikate uit wat met ‘n bepaalde aandeeltransaksie verband hou, maar versuim om die transaksie behoorlik in die entiteit se aandeleregister aan te teken.
Daar word ook dikwels vergeet dat aandelesertifikate slegs deur ‘n persoon wat deur die direksie gemagtig is, geteken mag word; en dat die klas van en aantal aandele op die aandelesertifikaat gereflekteer moet word.
Maatskappye vergeet ook dikwels dat die hoeveelheid uitgereikte aandele nie die gemagtigde aandelekapitaal mag oorskry nie. Die aantal uitgereikte aandele moet dus gereeld nagegaan word. Indien die maatskappy se aandeleregister nie behoorlik gehou en op datum is nie, sal die maatskappy nie geredelik kan vasstel of dit nog binne die perk is nie.
Dit is veral belangrik dat die aandeleregister behoorlik onderhou word en op datum is. Dit word nie net ingevolge die Maatskappywet vereis nie, maar finansiële instellings benodig dikwels ‘n afskrif van die aandeleregister sodat die maatskappy finansiering kan bekom. Sou ‘n aandeleregister dus nie behoorlik gehou word nie, sal dit heel waarskynlik tot gevolg hê dat die implementering van transaksies vertraag sal word.
Gebrek aan kennis
Direkteure verstaan dikwels nie, of is onbewus van, die bepalings van die maatskappy se Memorandum van Inlywing, aandeelhouersooreenkoms en die Maatskappywet, soos dit met hul verantwoordelikhede verband hou. Dit is egter noodsaaklik, aangesien die Maatskappywet bepaal dat ‘n direkteur persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir enige verlies, skade of koste wat die Maatskappy ly weens die oortreding van die Maatskappywet.
Om goeie korporatiewe bestuurspraktyke van u entiteit te verseker, en om te verseker dat u entiteit die bogenoemde risiko’s versag, kontak ons gerus by pty@asl.co.za.