
Alle Suid-Afrikaners is bewus daarvan hoe belangrik dit is om volledige en akkurate inkomstebelastingopgawes by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in te dien elke jaar, sowel as die gevolge wat daar kan wees indien hierdie nie toegepas word nie. “Verklaar alle inkomstes en vind so veel aftrekkings wettiglik moontlik” is die basis van alle persoonlike opgawes, maar wanneer moet ek my persoonlike bates en laste verklaar? Wanneer gaan ek my persoonlike finansiële state laat opstel? Indien jy “ja” op enige van die volgende vrae antwoord, is jy verplig om jou bates en laste te verklaar.
- Is jy ’n direkteur van ’n maatskappy?
Definisie: ’n Direkteur is ’n aangestelde, verkose lid van die direksie van ’n maatskappy wat met ander direkteure die verantwoordelikheid dra om die maatskappy se beleid te bepaal en te implementeer. Direkteure tree namens die maatskappy op om besluite te neem wat by direkteure vergaderings gemaak word.
- Is jy ’n lid van ’n beslote korporasie?
Definisie: ’n Beslote korporasie is ’n geregistreerde besigheid met 1 tot 10 lede, hoofsaaklik geskep vir kleiner ondernemings. Beslote korporasies kan egter nie meer geskep word nie, maar mag voortaan vir ’n onbepaalde tydperk voortbestaan.
- Het jy ’n eenmansaak, of lewer jy dienste of verkoop produkte in jou eie persoonlike hoedanigheid wat inkomste genereer (huurinkomste ingesluit)?
Definisie: ’n Eenmansaak is ’n besigheid met een eienaar, wat nie as ’n maatskappy geregistreer is nie en wat werknemers kan hê, hoewel eenmansake gewoonlik deur een persoon besit en bestuur word.
- Verdien jy buitelandse inkomste (buitelandse beleggingsinkomste uitgesluit)?
- Verdien jy boerdery-inkomste?
Alle bates en laste moet in die volgende kategorieë verklaar word:
- Vaste bates en verbeteringe aan eiendom;
- Aandele in privaat maatskappye of belange in beslote korporasies;
- Leningsrekeninge;
- Finansiële instrumente;
- Masjinerie en toerusting;
- Motorvoertuie, karavane en bote;
- Debiteure;
- Voorraad;
- Lewende hawe;
- Kontant voorhande;
- Persoonlike bates, ingesluit meubels, skilderye, juweliersware, ensovoorts;
- Verbandlenings;
- Krediteure;
- Oortrokke bankrekeninge; en
- Enige ander bates en laste.
Dit is belangrik dat alle bates en laste verklaar word sodat dit die individue se ware finansiële welvaart weerspieël. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens mag navrae hê rakende enige onverklaarde veranderinge in bates om sodoende belastingontduiking met betrekking tot die verklaring van kaptaalwinste en verliese te beperk.
Foutiewe of onvolledige opgawes kan jou duur te staan kom. Kontak ons gerus om te bepaal of dit nodig is dat jy jou bates en laste openbaar. Ons kan jou ook bystaan met die opstel van finansiële state en/of belastingberekeninge, sowel as die indien van jou jaarlikse persoonlike opgawe.