Op 1 Augustus vier ASL sy 22ste bestaansjaar. Te midde van ongekende onsekerheid en uitdagings in ‘n wêreld wat nie meer is soos wat ons dit geken het nie, is ons verheug en dankbaar dat ASL se verjaarsdag een van die min konstantes is!
Ons wil van die geleentheid gebruik maak om ons diepe waardering en dank uit te spreek teenoor die volgende onontbeerlike skakels in die ASL-enjinkamer.
Ons kliënte – Oor ‘n tydperk van 22 jaar het ons die voorreg gehad om baie kliënte van diens te kon wees. Met sommige kliënte is ons verhouding kortstondig weens die behoefte aan ‘n eenmalige gesprek as deel van ‘n spesifieke transaksie. Met sommige kliënte strek ons verhouding oor 22 jaar en ons kan nie anders as om ook jul bydrae tot die sukses en groei van ASL te erken nie. Ons koester elke kliënteverhouding – hetsy diegene wat ons slegs een keer sien of diegene wat al die pad saam met ons stap sedert die begin, of daarna by ons aangesluit het. Ons bly verbind tot die strewe na wedersydse voordelige verhoudinge met ons kliënte. Dankie dat jul ons vertrou met jul belange en ons jul voorkeurdiensverskaffer kan wees.
Ons Personeel – Jul toewyding, deursettingsvermoë en spanwerk is prysenswaardig, soveel te meer tydens die afgelope vier maande waar ons sterker as ooit as ‘n span saam gewerk het ten spyte van die feit dat ons nie saam op kantoor kon wees nie. Dankie dat ieder en elk die WTRAC-waardes (Work ethic, Teamwork, Relationships, Attitude & Client centric) daagliks uitleef. Elkeen van julle speel ‘n belangrike rol in die sukses van ASL en jul bydrae gaan nie ongesiens verby nie.
Ons spesialisadviseurs – Dankie dat jul ons hande vat en bystaan met spesialis advies om te alle tye die beste oplossing vir ons kliënte te bied. Ons het groot waardering dat jul ons strewe na uitnemende kliëntediens met ons deel. Dis ‘n voorreg om met jul geassosieer te word.
Ons diensverskaffers – Sonder julle sou ons nie die nodige infrastruktuur kon skep wat ons in staat stel om met die nodige hulpmiddels elke dag ons beste te lewer nie. Ons waardeer jul vriendelike en betroubare diens en produkte.
Ons sien daarna uit om in die volgende jaar voort te bou op uitnemende kliëntediens en wedersydse voordelige verhoudinge te bou met elke rolspeler wat ons in staat stel om dit te bereik.
Beste wense
Pieter, Arnold, Christa & Jaco