Is dit steeds moontlik vir ’n besigheid om ’n handelsnaam anders as sy geregistreerde naam te gebruik?

Is it still possible for a business to use a trading name other than its registered name?
February 2, 2018

Dit is nie ongewoon dat ’n maatskappy ’n handelsnaam gebruik wat nie dieselfde is as sy geregistreerde naam soos dit by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) opgeteken is nie.

Kragtens hoofstuk 4 van die Wet op Gebruikersbeskerming 68 van 2008 (die Wet) en in die besonder artikels 79 tot 81, word bepaal dat maatskappye nie langer toegelaat word om handel te dryf onder name wat nie eenders is as hul geregistreerde name nie. Die bepalings van artikel 79(1) stipuleer dat:

79(1) Iemand moet nie besigheid bedryf, adverteer, bevordering doen, aanbied om goedere of dienste te verskaf of dit verskaf, of ’n transaksie of ooreenkoms aangaan met ’n verbruiker onder enige naam behalwe-

(a) die persoon se volle naam soos-
(i) in die geval van ’n individu, in ’n identiteitsdokument of ’n ander erkende identifikasiedokument aangeteken; of
(ii) in die geval van ’n regspersoon, ingevolge ’n openbare regulasie geregistreer; of

(b) ’n besigheidsnaam aan daardie persoon en vir sy of haar gebruik geregistreer ingevolge artikel 80 of ’n ander openbare regulasie.

Dis nodig om daarop te let dat artikel 79 gelees moet word in samehang met item 5 van Skedule 2 van die Wet. Item 5 van hierdie Skedule bepaal dat artikels 79 tot 81 in werking sal tree op ’n datum wat die Minister van Handel en Nywerheid in die Staatskoerant afkondig. Nieteenstaande die feit dat die Wet gedurende 2008 van krag geword het, het die Minister nog nie die datum gepubliseer waarop die gebruik van handelsname in hul huidige vorm nie langer toegelaat sal word nie.

Die feit dat die aanvangsdatum nog nie bekend gemaak is nie beteken dat die gebruik van handelsname steeds ’n opsie is. Nietemin moet daar in gedagte gehou word dat, sodra die Minister die datum aankondig waarop Artikels 79 tot 81 in werking tree, alle maatskappye wat handelsname gebruik, die name by die CIPC sal moet registreer.

Sou maatskappye nie die bepalings van die Wet nakom wanneer die voorgenoemde datum bekend is nie, kan die Verbruikerskommissie maatskappye beboet. Tans is dit nog onseker watter bedrag sodanige boetes mag behels.

Dit is raadsaam om te oorweeg om nie langer ’n handelsnaam in isolasie te gebruik nie en om liewer ’n handelsmerk en/of naam van die maatskappy wat ook as die handelsnaam gebruik kan word, te registreer. Sou die bepalings van artikels 79 tot 81 in werking tree sal dit dus nie situasies meebring waar handelsname verander sal moet word en/of waar partye genoodsaak sal wees om aan streng tydsbeperkinge te voldoen ten einde swaar boetes te vermy nie.

ASL
ASL
We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X