Artikel 7(C) vir Jan Alleman

How to succeed as an entrepreneur
May 31, 2019
The positive characteristics of millennials
May 31, 2019

Die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het belastingwetgewing in werking gestel wat van toepassing is op lenings toegestaan aan trusts en/of maatskappye waar daar a) nie enige rente op die lening gehef word nie of b) rente teen ’n koers minder as die SAID se amptelike koers gehef word.

Tradisioneel word die bates van ’n persoon aan ’n trust/maatskappy oorgedra op veral die volgende wyses:

  1. Die persoon skenk die bates aan die trust/maatskappy en betaal 20% skenkingsbelasting op sodanige skenking. Die inkomste wat die trust genereer deur die bates wat geskenk is, word geag in die hande van die skenker belasbaar te wees; of
  2. Die persoon verkoop die bates of leen geld (om bates te koop) aan die trust/maatskappy en daar ontstaan ’n leningsrekening waarop rente teen ’n markverwante koers gehef word. In hierdie geval word die persoon op die rente-inkomste belas terwyl die trust/maatskappy die rente wat betaal is as ’n aftrekking vir belastingdoeleindes kan eis; of
  • Die persoon verkoop die bates of leen geld (om bates te koop) aan die trust/maatskappy en daar ontstaan ’n leningsrekening waarop geen rente gehef word nie, of rente wél gehef word maar nie teen ’n markverwante koers nie.

Die oordra van bates aan ’n trust/maatskappy het boedelbelastingvoordele in gevalle waar die bates wat aan die trust/maatskappy oorgedra word sou groei. Die groei van sodanige bates vind dus in die trust/maatskappy plaas en nie in die individu se boedel nie en die groei is dus nie aan boedelbelasting onderhewig nie.

Die wetgewing is van toepassing op lenings aan trusts met ingang 1 Maart 2017 en lenings aan maatskappye (waarvan die leninggewer ’n begunstigde van die aandeelhoudende trust is) met ingang 19 Julie 2017. Die minimum rente wat op ’n lening gehef moet word is die amptelike koers soos bepaal deur die SAID (tans 7,75% per jaar).

Die geagte bedrag rente bereken op die lae rente- of rentevrye lening aan ’n trust/maatskappy sal geag word ’n skenking te wees waarop skenkingsbelasting betaal moet word. Die jaarlikse skenkingsbelastingvrystelling van R100 000 sal egter wel benut kan word ten opsigte van só ’n geagte skenking.

Daar kan dus ’n maksimum bedrag van R1 318 750 (vir die 2019-belastingjaar) rentevry geleen word aan ’n trust/maatskappy voordat skenkingsbelasting betaalbaar sal wees, mits die lener geen ander skenkings gedurende die betrokke jaar gemaak het nie.

Die volgende transaksies/lenings is vrygestel van die nuwe wetgewing, maar is nie hiertoe beperk nie:

  • Lenings aan ongenoteerde maatskappye/beslote korporasies waar ’n individu die alleenaandeelhouer is;
  • Lenings aan openbare weldaadsorganisasies;
  • Lenings aan trusts om gevestigde regte in die trust te bekom;
  • Lenings aan spesiale trusts;
  • Lenings aan trusts om primêre wonings te finansier;
  • Lenings wat ontstaan het met die uitkering van inkomstes aan begunstigdes; en
  • Lenings onderhewig aan Artikel 64E(4) van die Inkomstebelastingwet (lening tussen ’n maatskappy en ’n trust waar geagte dividende ter sprake is).

 Indien u enige vrae sou hê ten opsigte van die inhoud van hierdie artikel, kontak gerus vir Jacques Potgieter (jacquesp@asl.co.za) of u verhoudingsdirekteur.

ASL
ASL
We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X